Terreurbedreiging in Mosambiek deel van groter Afrikakrisis

Deur on

Nuuskommentaar: 13 Mei 2024

Deur: Jaco Kleynhans

Verlede Vrydag het ’n terreurgroep wat bande met die Islamitiese Staat het, ’n verrassingsaanval op die dorp, Macomia, in die noorde van Mosambiek uitgevoer. Die aantal mense wat in dié aanval dood is, is steeds onbekend. Islamitiese terroriste voer reeds sedert 2017 ’n stryd in die Cabo Delgado-streek. Die terroriste se doel is om die gebied te destabiliseer om uiteindelik beheer daaroor te kry.

Meer as 100 000 mense moes reeds weens die geweld uit hulle huise vlug. Tot dusver is daar duisende burgerlikes en honderde soldate in die geweld dood. Die Franse energiemaatskappy, Total Energies, het die bou van ʼn reuse- vloeibare gasaanleg van twintig miljard dollar reeds in 2021 tydelik gestaak nadat meer as 1 000 mense dood is toe dieselfde terreurgroep ’n aanval op die dorp naaste aan die aanleg uitgevoer het.

Suid-Afrika het tans honderde soldate in Cabo Delgado as deel van ’n vredesmissie van die Suider-Afrika Ontwikkelingsgemeenskap. Dié soldate is veronderstel om binne die volgende twee maande almal na Suid-Afrika terug te keer met die vredesmissie wat beëindig word. Rwanda het meer as 1 000 soldate in Cabo Delgado wat met Mosambiek se weermag saamwerk in ʼn poging om die terreurbedreiging die hok te slaan.

Uit Vrydag se aanval op Macomia, wat strategies geleë is op die enigste roete tussen die provinsiale hoofstad Pemba en die terrein waar die gasaanleg gebou moet word, is dit duidelik dat terroriste steeds oor die vermoë beskik om groot ontwrigting te veroorsaak. Die terreurgroep, wat hulleself Al-Shabaab noem, en wat direkte bande met die Islamitiese Staat het, dreig toenemend om groter dele van Mosambiek te destabiliseer.

Mosambiek is nie die enigste land in Afrika wat toenemend met ’n Islamitiese terreurbedreiging gekonfronteer word nie. Volgens die Afrika Unie het Islamitiese terreuraanvalle regoor Afrika die afgelope twintig jaar met meer as 1 000% toegeneem.

Volgens die Afrika Sentrum vir die Studie en Navorsing van Terreur was daar in 2023 in Afrika ’n gemiddeld van agt terreuraanvalle per dag en 44 daaglikse sterftes weens hierdie aanvalle.

Twee weke gelede het Afrikaleiers in die Nigeriese hoofstad Abuja vergader om oor oplossings vir die terreurbedreiging op die vasteland te praat. Islamitiese terreurgroepe beheer tans groot dele van die Sahel-streek uit Wes-Afrika tot in Somalië in die Ooste. Daar is ook toenemend aktiewe Islamitiese terreurgroepe in lande soos Uganda, Tanzanië en Mosambiek.

Die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies het onlangs gewaarsku dat terrorisme en gewelddadige ekstremisme besig is om teen ʼn kommerwekkende tempo oor Afrika te versprei.

President Azali Assoumani, president van die Comore en voorsitter van die Afrika-unie, het onlangs gesê dat terrorisme die afgelope paar jaar “in Afrika ontplof het”.

President Filipe Nyusi, van Mosambiek het verlede week weer beklemtoon dat, hoewel terrorisme ʼn wêreldwye bedreiging is, die situasie in Afrika meer kritiek bly, met die kontinent wat tans 48 persent van terrorismeverwante sterftes verteenwoordig. Terwyl die wêreld se oë op ander internasionale konfliksones is, is dit duidelik dat Islamitiese terreurgroepe regoor Afrika ’n houvas kry. Dit gaan oor die volgende paar jaar reusebedreigings vir die hele kontinent, ook vir Suid-Afrika, inhou. Juis daarom sal dit dwaas wees om nou soldate uit Mosambiek te onttrek.

Foto: Jornal Ikweli


Current track

Title

Artist