Teheran, Moskou, Washington en die prys van vrede

Deur on

Nuuskommentaar: 8 Julie 2024

Deur: Jaco Kleynhans

Terwyl die oorlogswolke in Oos-Europa, die Midde-Ooste en die Suid-Chinese See saampak, is daar ook genoeg tekens van wat nodig is om vrede te bewerkstellig of oorlog te voorkom. Die verkiesing van die mees gematigde president in byna twee dekades in Iran verlede Vrydag, die Hongaarse eerste minister se pogings om vredesonderhandelinge tussen Rusland en Oekraïne te inisieer en hierdie week se Navo-beraad in Washington DC is ryk aan geleenthede om ’n volgende groot globale konflik te voorkom.

Die gerespekteerde skrywer en senior genoot by die Hoover Instituut, Niall Ferguson, skryf onlangs op Bloomberg dat Oekraïne nie onbepaald kan aanhou om namens die Weste oorlog teen Rusland te voer nie. Die oorlog tussen Oekraïne en Rusland is in wese ’n oorlog tussen die VSA en sy Westerse bondgenote teen Rusland.

Die oorlogshistorikus ME Serotte, verbonde aan die Johns Hopkins-universiteit, het reeds in 2014 aangevoer dat Wladimir Poetin daarvan oortuig is dat Navo ’n pakt met Rusland, wat enige ooswaartse uitbreiding van dié verdragsorganisasie sou voorkom, verbreek het.

Die afgelope week skryf Serotte op die aanlyn nuusblad Foreign Affairs oor onderhandelinge tussen die Verenigde State, die Sowjetunie en Wes-Duitsland in 1990. Deel van dié onderhandelinge wat sou toelaat dat Sowjet-troepe Oos-Duitsland verlaat en Wes- en Oos-Duitsland kon herenig, was ’n belofte deur die Weste dat Navo, wat toe maar 16 lede gehad het, nie oos van Duitsland sou uitbrei nie.

Volgens Serotte het dokumente wat lank geheim was, intussen aan die lig gebring dat ’n ooreenkoms oor Navo-uitbreiding tussen die Weste en Rusland bereik moes word. Amerikaanse en Wes-Duitse amptenare het in kommunikasie met die Russe geïmpliseer dat ‘n ooreenkoms wat Navo-uitbreiding sou beperk, op die tafel kon wees, en in ruil daarvoor het hulle die groen lig ontvang om die proses van Duitse hereniging te begin. Helmut Kohl, kanselier van Wes-Duitsland, het die Sowjet-leier Mikhail Gorbatsjof gerusgestel dat NAVO se grense nie sou verander nie. Geen skriftelike ooreenkoms is egter ooit gesluit nie.

Die Hongaarse premier, Viktor Orbán, het verlede week eers Kiëf en daarna Moskou besoek in ’n poging om vredesamesprekings aan te gang te kry. Hierdie week sal Orbán saam met nog 31 ander staatshoofde die jaarlikse Navo-beraad in Washington DC bywoon. Navo vier vanjaar sy 75ste bestaansjaar en het tans presies dubbel soveel lede as in 1990. Orbán se besoek aan Moskou is verlede week deur die meeste Wes-Europese en Europese Unie-leiers skerp veroordeel. Westerse leiers is blykbaar steeds daarvan oortuig dat die onmoontlike, naamlik ’n Oekraïense oorwinning oor Rusland, moontlik is. Hierdie week se Navo-beraad is ’n gulde geleentheid vir Navo-leiers om oor vrede te praat.

Verlede Vrydag het die kiesers in Iran die mees gematigde president verkies sedert Mohammad Khatami wat in Augustus 2005 uitgetree het. Die nuwe president, Masoud Pezeshkian, wil oor vrede met die Weste praat. Dit is ’n gulde geleentheid om die diepliggende spanning in die Midde-Ooste, wat dreig om in ʼn  reuse-streeksoorlog te ontaard, te begin ontlont.

’n Sterk verdediging en militêre opbou soos deur Ronald Reagan tydens die 1980’s is wat die Weste nou moet onderneem. Gesprekke oor vrede, die voorkoming van ’n kernwapenwedloop en selfs groter oorlog, asook ’n noodsaaklike skikking tussen Rusland en die Weste oor die Oos-Europese invloedsfeer sluit egter nie goeie verdedigingstrategieë uit nie. Albei is nou broodnodig anders stuur die wêreld op groot moeilikheid af.


Current track

Title

Artist