fbpx

Swak ekonomiese groei ‘n globale uitdaging

Deur on Jan 29, 2020

Nuuskommentaar: 29 Januarie

Die wêreld het geen tekort aan krisisse nie. Die nuwe jaar het weggespring met hernude krisisse in die Midde-Ooste en by die Europese Unie, die Verenigde Nasies en ook die onlangse vergadering

van die Wêreld Ekonomiese Forum in Davos, Switserland is klimaatsverandering as die grootste uitdaging wat die wêreld tans in die gesig staar, gelys.

Hoewel die meeste lande in die wêreld vandag veiliger en voorspoediger as ooit in die geskiedenis is, bestaan daar altyd kommer oor nuwe uitdagings wat in die toekoms tot grootskaalse ontwrigting en selfs ‘n terugkeer na oorloë, armoede en hongersnood kan lei.

Internasionale organisasies en nasionale regerings, maar ook nie-regeringsinstellings en gewone individue se vermoë om op hierdie uitdagings te reageer, word meestal deur ekonomiese ontwikkeling bepaal. Sou lande in die noorde van Afrika minder korrupsie en beter ekonomiese groei ervaar, sal immigrasie vanaf hierdie streek na Europa ook minder wees. Netso is lande met sterk ekonomiese groei en heelwat welvaart beter toegerus om klimaatsverandering met die hulp van navorsing en slim tegnologie aan te pak.

Die huidige onstabiliteit in Irak word meer as wat die meeste analiste wil erken deur ekonomiese uitdagings aangevuur. Na die Amerikaans-geleide oorlog in Irak is dié land vir te lank deur swak regerings wat nie daarin kon slaag om die land se groot oliehulpbronne ten gunste van gewone burgers te ontgin nie, uitgelewer. Jong werklose mense word makliker vir betogings of selfs deelname aan terreuraktiwiteite gemobiliseer as jongmense wat ekonomies aktief is en positief is oor hulle ekonomiese vooruitsigte. Dit geld nie net vir Irak nie, maar vir die meeste lande in die Midde-Ooste en Afrika.

Tydens die Davos-konferensie het die Internasionale Monetêre Fonds sy globale ekonomiese groeiverwagtinge vir 2020 na slegs 3% verlaag. Die IMF verwag geen groot ekonomiese krisis in 2020 nie, maar daar bestaan wel kommer dat ‘n hele paar van die grootste ekonomieë in die wêreld onder druk verkeer en dat dit nie in 2020 beter sal gaan nie. In Afrika groei die totale bevolking vinniger as wat dié kontinent se ekonomieë groei en dit skep ‘n teelaarde vir uitdagings soos radikalisering, onwettige emigrasie en natuurlik grootskaalse besoedeling en vernietiging van natuurlike hulpbronne.

Die IMF se verwagte ekonomiese groei vir Suid-Afrika is ook afwaarts aangepas en daar word algemeen verwag dat ons land se ekonomie vanjaar baie swakker as vergelykbare ontwikkelende ekonomieë gaan presteer. Wat die situasie vererger is dat dit juis lande is waarheen die grootste deel van ons uitvoere gaan, insluitende Europa, die VSA, China en Indië wie se ekonomiese groeiverwagtinge afwaarts aangepas is. Dit skep ‘n klimaat vir onsekerheid en onstabiliteit.

Net soos wat Suid-Afrika ernstige uitdagings het om te bowe te kom, geld dieselfde ook vir die res van die wêreld. ‘n Land met gesonde ekonomiese groei, goeie onderwys, stabiele instellings en goeie infrastruktuur is soveel beter toegerus om planne te maak vir veiligheidsbedreigings, klimaatsverandering en ander potensiële uitdagings. Om die vooruitgang wat die afgelope paar dekades op verskeie terreine in die wêreld gemaak is, voort te sit sal die wêreld se leiers en belangrikste instellings vanjaar indringend oor volhoubare globale ekonomiese groei moet praat met ‘n besef dat dit ‘n voorvereiste vir die oplos van talle ander probleme in die wêreld is.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist