Suid-Afrika se rioolkrisis: Bo en onder stink

Deur on

Nuuskommentaar: 8 Maart 2024

Deur: Marais de Vaal

Die gesegde “bo blink, onder stink” is nie ’n akkurate beskrywing van die land se rioolbesoedelingkrisis nie. ’n Meer akkurate beskrywing is “bo én onder stink”, want die werklikheid van die rioolbesoedelingkrisis is ooglopend sigbaar.

Rioolsuiweringswerke staan stil óf kan glad nie byhou by bevolkingsgroei nie. Rou riool borrel by mangate uit en vloei in riviere in. Rioolkoppelings word dikwels nie gedoen nie. 

Die reg op ’n omgewing wat nie skadelik vir mense se gesondheid is nie en die reg op toegang tot skoon drinkwater en sanitasie, is basiese menseregte wat deur die Grondwet gewaarborg word.

Die skending van dié regte is onlangs weer bevestig deur die vlaag ondersoeke wat die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) ingestel het:

  • In Februarie  het die MRK bevind dat ernstige probleme met rioolstorting en -behandeling in alle munisipaliteite in Mpumalanga die menseregte van hul inwoners skend.
  • Die DA het ook in Februarie ’n verslag aan die MRK oorhandig betreffende die toestand van munisipaliteite in die Vrystaat, waar 80% van riool onbehandeld in riviere beland.
  • In dieselfde maand is die Polokwane Plaaslike Munisipaliteit by die MRK aangekla oor die Seshego-rioolsuiweringsaanleg wat reeds maande lank onverwerkte riool in die Bloedrivier stort.
  • En in Upington is die Dawid Kruiper-munisipaliteit ook in Februarie by die MRK verkla weens hul versuim om dreine wat oorloop, reg te maak en kanaalwater wat vir landboudoeleindes gebruik word, besoedel.

Rioolbesoedeling kan grootliks toegeskryf word aan munisipaliteite se versuim om hul verpligtinge na te kom. Die MRK-bevindings het tot dusver nie tot praktiese en volhoubare oplossings op grondvlak gelei nie, wat beklemtoon dat die wigte en teenwigte waarop die verwesenliking van grondwetlike regte steun, ondoeltreffend is.

Die publiek kan verskeie alternatiewe prosesse volg om hul reg op ’n gesonde omgewing te beskerm, maar dit is nie sonder uitdagings nie:

  • Rioolbesoedeling is ’n misdaad en kriminele klagtes teen oortreders kan by die polisie gelê word. Klagtes kan ook by die Departement van Water en Sanitasie en die Departement van Bosbou, Visserye en Omgewingsake aangemeld word. Die polisie se gebrekkige kennis oor omgewingsmisdade en beperkte hulpbronne lei egter selde tot suksesvolle vervolging.
  • Die howe kan ook genader word om munisipaliteite te dwing om hul statutêre verpligtinge na te kom. Die siviele regsproses duur egter lank, sonder enige waarborg van sukses en die publiek moet uit hul eie sak daarvoor opdok. Boonop word hofbevele dikwels geïgnoreer.
  • Moedelose gemeenskappe kan moue oprol en self noodsaaklike instandhoudingswerk doen, maar die wetlike ruimte hiervoor is beperk en die risiko dat gemeenskappe hulself aan die verkeerde kant van die gereg kan bevind, is wesenlik.  

Die oplossing vir die rioolkrisis lê daarom nie in die remedies wat veronderstel is om die publiek teen die staat te beskerm nie, maar eerder aan die kant van ’n regering wat die staat se funksies doeltreffend uitvoer. Die regering se onvermoë om sy funksies uit te oefen en regulatoriese rompslomp beperk die moedelose publiek om self verantwoordelikheid vir die verwesenliking van hul grondwetlike regte te neem.

Foto: My Broandband


Current track

Title

Artist