Sommige oorloë blykbaar belangriker as ander

Deur on

Nuuskommentaar: 19 Maart 2024

Deur: Jaco Kleynhans

Dit is vandeesmaand presies dertien jaar sedert die uitbreek van ’n burgeroorlog in Sirië. Oor die afgelope dertien jaar is daar meer as 600 000 mense in dié oorlog dood. Volgende maand sal dit die eerste herdenking van die uitbreek van die huidige burgeroorlog in Soedan wees. In dié afgelope byna twaalf maande is daar ongeveer 15 000 mense in dié oorlog dood.

Later vanjaar sal dit presies tien jaar wees sedert die uitbreek van die burgeroorlog in Jemen. Byna 400 000 mense is reeds in dié voortslepende oorlog dood.

In Asië was dit verlede maand presies drie jaar sedert ’n militêre staatsgreep in Mianmar ’n einde aan dié land se kortstondige demokratiese regering gebring het. Die afgelope drie jaar is duisende mense in dié hernude konflik in Mianmar dood.

In die verre weste van Asië is byna 40 000 mense die afgelope drie dekades in ’n bloedige oorlog tussen Armenië en Azerbaidjan dood. Laat verlede jaar het Azerbaidjan met ’n reeks verrassingsaanvalle beheer oor die histories-Armeense gebied Nagorno-Karabakh geneem. Meer as 100 000 etniese Armeniërs het binne dae uit die gebied gevlug.

In Afrika duur dodelike konfliksituasies nie net in Soedan nie, maar ook in lande soos die Demokratiese Republiek van die Kongo, die Sentraal Afrika Republiek, Somalië en die meeste lande van die Sahel-streek, insluitende Burkina Faso, Mali en Niger voort.

Terwyl ons elke dag in die media die nuutste oor die oorloë in Oekraïne en die Gasa-strook verneem, is daar in werklikheid talle ander oorloë regoor die wêreld aan die gang. Die probleem is egter dat ’n oorlog in Soedan of Armenië nie vir groot wêreldmoondhede van veel belang is nie. Inderwaarheid kan ’n moreelgeregverdigde standpunt oor hierdie oorloë juis vir belangrike moondhede risiko’s inhou.

Sedert die uitbreek van die oorlog in Oekraïne en die sanksies wat daarop gevolg het, is Europa toenemend afhanklik van aardgas uit Katar en Azerbaidjan. Die Weste kyk dus gemaklik weg as die Golflande wapens aan rebelle in Soedan lewer, of die regering van Azerbaidjan etniese suiwering in Nagorno-Karabakh uitvoer.

Turkye se verwoestende aanvalle in Sirië en selfs op die Koerde in Irak word geïgnoreer ten einde dié Navo-bondgenoot nie te vervreem nie. Bondgenootskappe is in magspolitiek dikwels belangriker as menselewens.

Die oorlog in Oekraïne, sowel as die Gasa-konflik is reuse-tragedies. Beide oorloë speel egter ’n belangrike rol in die huidige globale magstryd. ’n Senior Amerikaanse politikus se onlangse voorstel dat die oorlog in Oekraïne juis jare lank moet voortduur omdat geen Amerikaanse lewens verlore gaan nie, maar die oorlog die Russe op die agtervoet hou, is veelseggend.

Die oorlog het Europa verenig en het die Noord Atlantiese Verdragsorganisasie ’n tweede lewe gegee. Swak leiers is dikwels oortuig dat harde woorde teen sterk opponente hulle politieke loopbane gaan red. Die Weste sal iets meer as dit nodig hê indien hulle die magstryd teen Rusland, China en hulle ondersteuners soos Iran wil laat slaag.

Juis daarom moet daar meer oor vrede gepraat word. Die oorlog in Oekraïne moet dringend beëindig word. Netso die konflik tussen Israel en die Palestyne en tussen Afrikane en Arabiere in Darfoer, en tussen Armenië en Azerbaidjan. Tans blyk dit eerder of oorlog groter voordele as vrede inhou en dit voorspel niks goed vir lande en streke wat reeds deur oorlog en konflik geraak word nie.

Foto: www. history.com


Current track

Title

Artist