fbpx

Skole in die nuus

Deur on Jan 28, 2020

Nuuskommentaar: 28 Januarie

Dit is opmerklik hoe baie skole en leerders en opvoeders en die department van onderwys die afgelope weke in die nuus is.  Met rede.  Opvoeding raak die wel en wese van ’n samelewing.  Natuurlik in die begin van die jaar is daar meer rede tot skole nuus, juis omdat ’n groot groep leerlinge hulle skoolloopbaan vir die eerste keer begin, die skole begin weer vir die jaar, matriekuitslae word bekendgemaak en skole moet slaggereed wees om ’n samelewing te bou deur sterk opvoeding.  Skole moet vir die regte redes in die nuus wees.  Slaggereed. Voorbereid.  Opgewonde om ‘n verskil te maak.  Ongelukkig in die Suid-Afrikaanse konteks is skole te veel vir te veel verkeerde redes in die nuus.  Natuurlik is dit lekker om te weet daar is skole wat sonder oponthoud begin werk, ‘n rooster begin volg, gereed is met ‘n sterk kurrikulum, gekwalifiseerde personeel en aanslae kan hanteer.  Dit is slegter om te besef dat skole ook in die nuus is oor kinders wat nie geplaas is nie, ‘n plasingstelsel wat duidelik nie baie effektief is nie, orienteringskampe wat hartseer bring, skole van 1300 leerlinge met 2 toilette, onderwysers wat nie opdaag of nog nie aangestel is nie, boeke wat nog nie voorsien is nie, klaskamers wat nie voltooi is nie, ‘n departement wat nie reageer op navrae nie, ouers wat ingange versper en leerlinge wat moedeloos begin – dit is nie die nuus van skole wat ons daagliks moet hoor nie.  Ons gaan nie kan bou aan ‘n sterk Suid-Afrikaanse samelewing as skole en opvoeding nie kragtig en om die regte redes in die nuus is nie.  Goeie prestasies, goeie ontwikkeling, goeie ouer-betrokkenheid, goeie kurrikulum en die ontwikkeling van kinders binne hulle gawes en vermoëns kan ‘n samelewing bou.  Daarom is dit nodig dat ouers hulle roeping en verantwoordelikheid besef.  Ouers kan nie alles net oorlaat aan skole self nie.  Ouers moet hande vat en help.  Onderwysers moet die erkenning kry wat hulle toekom. Strukture moet onderwys vergemaklik en nie bemoeilik nie.  ‘n Mens is deeglik bewus van die feit dat die Suid-Afrikaanse onderwystelsel geweldig onder druk is, ingewikkeld is en met baie uitdagings sit.  Die realiteit is dat ons ‘n samelewing sal moet word wat skole om die regte redes in die nuus hou.  Dit beteken al die vennootskappe van onderwys naamlik leerlinge, beheerliggame, ouers, onderwysers, bestuurspanne, die departement en ander rolspelers sal nie passief kan staan teenoor ons skoolstelsels, goeie bestuur en verantwoordelikheid opneem nie.  Hoe sterker die opvoeding van ons kinders, hoe sterker die toekoms van Suid-Afrika.  Hoe meer ons gebrek skiet aan die uitvoer van hierdie basiese samelewingsprioriteit, hoe minder gaan Suid-Afrika vorentoe gaan.  Dit is tyd vir verantwoordelikheid neem, mooi dink en reg doen.  Die onderwys is nie n dobbelspel nie en n generasie kan nie weer vervang word nie.  Skole moet om die regte rede in die nuus wees. 


Laat 'n boodskap
  1. Gerrit van der Walt   On   Jan 28, 2020 at 5:20 pm

    Die artikel is weereens net passiewe kommentaar op n mislukte stelsel. Waarom moet ouers en gemeenskappe nou so intens betrokke raak? Omdat die huidige onderwys beleid faal. Ek was in die 70’s op skool. Ek my ouers kon my met geruste harte oorlaat aan n effektiewe Christelik- Nasionale onderwysstelsel.Wat hierdie artikel sê is dat ons as ouers moet aanpas by n kommunistiese onderwysstelsel. Nee man!!

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist