27 Augustus 2024
Die nuus dat Statistiek Suid-Afrika groot dele van sy 2022-sensusdata as onbruikbaar onttrek het, kom nie as ‘n verrassing nie. Minstens twee gesaghebbende organisasies het reeds op reuse foute gewys, naamlik Solidariteit, nou reeds twee keer, en ook onlangs die Sentrum vir Aktuariële Navorsing aan die Universiteit van Kaapstad.
Sensus behels veel meer as net om die bevolking te tel, soos ‘n mens uit die reklame daarvoor sou kon aflei; En nee, niemand is weg sodat almal nou eers getel moet word nie.
Daar is volop redes om ontsteld te wees. Sonder akkurate sususgegewens kan nie beplan word waar nuwe skole gebou moet word nie. Nuwe uitbreidings en paaie moet beplan word. Gesondheidsdienste moet so beplan word dat dit so toeganklik as moontlik is aan waar die mense woon. Nuwe damme moet beplan word. Kortom, daar is haas nie ‘n aspek van die lewe wat nie ‘n belang by sensusgegewens het nie. Lande steek daarom so elke vyf jaar die hand diep in die sak om ‘n behoorlike, akkurate sensus te kan hou. ‘n Foutfaktor van sowat drie persent, wat deur spesiale prosesse reggestel moet word, word as ideaal beskou.
Maar in Suid-Afrika was al foutfaktore van meer as twintig persent, veral wat sekere aspekte betref. Tog is Statistieke SA se erkenning van brouwerk, eintlik hoogs uitsonderlik, maar die diens maak daarop aanspraak dat beter syfers oor dit wat nou onttrek is, uit ander bronne beskikbaar is. Nie alle waarnemers stem hiermee saam nie.
Dat alles nie pluis is nie is baie duidelik, al word die diens gereeld as baie goed aangebied. Die 2012-sensus is byvoorbeeld deur die ouditeur-generaal afgekeur. En ten spyte hiervan is besluit om die volgende sensus eers tien jaar later weer te hou, al bepaal die wet dat dit elke tien jaar moet wees.
Daar is egter verskeie ander faktore wat verklik dat dinge nie pluis kan wees nie. Die sensus se syfers vir skade wat deur misdaad aan landbou aangerig word, is byvoorbeeld in ‘n totaal ander orde as dit wat in die polisie se statistieke opgeneem word. Volgens Statistieke SA se syfers lei boere jaarliks miljarde rande se skade weens gewasdiefstal, weidingdiefstal, weens brandstigting, diefstal van implemente en gereedskap – en dis nou afgesien van die meer gebruiklike items soos veediefstal, waar die sensusgewens hemelsbreed van dié van die polisie verskil.
Maar na elke sensus is daar ‘n stroom kritiek vanuit die publiek oor hoe swak die opnames gedoen is. Die invul van vorms op sypaadjies onder koeltebome is nie maar die publiek se verbeelding nie. Wanneer toesighouers kontroles doen moet hulle gereeld antwoorde probeer kry oor waar die data vandaan kom van ‘n huis wat al lank leegstaan.
Korrupsie vind ook plaas, soos die aanstelling van maatjies as opnemers. Daar was al verskeie gevalle van onrus hieroor. Die kantoor in Bloemfontein is byvoorbeeld al deur ontevredenes beset.
Baie van die probleme word veroorsaak deur af te wyk van internasionale riglyne, soos om mense uit die gebied waar hulle woon as opnemers aan te stel. Dit skakel die taalprobleem grootliks uit. Opnemers word egter gereeld uit swart woongebiede ver van tradisioneel wit woongebiede gewerf. Die daaglikse inkomste wat die opnemers verdien, is kwalik meer as die taxigeld wat dan spandeer moet word. Baie mense is weens werksomstandighede nie bedags tuis nie, en kan net saans tuis aangetref word. Maar saans laterig loop die taxis nie meer nie.
Sekere sake maak net glad nie sin nie. Met elke sensus word ‘n rits tydelike kantore geopen. Die meubels hiervoor word tussen sensusse ten duurste na Pretoria vervoer waar dit in ‘n reuse pakhuis gehuisves word, voor dit vyf, of tien jaar later weer landswyd “uitgeplaas” word. Hierdie tydelike kantore word gewoonlik in dorpe en stede ingerig waar daar sg “swop shops” is waar meubels gehuur kan word, en na die sensus weer terugbesorg word.
Met sensusse is daar ook gereeld konflik oor plaastoegang. Daar bestaan ‘n protokol vir plaastoegang wat destyds nog deur pres. Thabo Mbeki self onderteken is. Boere het egter deurlopend moeilikheid gehad van sensusopnemers wat die protokol geïgnoreer het, en verskriklike woede onder die opnemers ontlok het as die polisie hulle arresteer.
Kluitjies bak is ongelukkig aan die orde. As ‘n droogmaker rapporteer dat alles glad verloop, word dit sonder meer aanvaar. Met die verspreiding van die 2012-skolesensus se vraelyste het die kantoor in Limpopo gou gerapporteer dat al die vorms met die beskikbare voertuie versprei is. ‘n Sommetjie het gou getoon dat sou dit waar wees, het die voertuie wat dit gaan aflewer het, op plaaspaaie met ook plaashekke ‘n gemiddelde spoed van meer as 900 kilometer per uur moes ry. Dit is aan die sensus se “Sanhedrin” gerapporteer, maar die gekonkel se gegewens is aanvaar – tot na die sensus. Uiteindelik kon die skolesensus, waarvoor Brittanje betaal het, nie afgehandel en gebruik word nie.
Op die keper beskou, is dit duidelik dat daar eers behoorlik toegesien sal word dat ‘n volgende sensus met integriteit uitgevoer moet word. Die land het nie ‘n los twee tot drie miljard rand om op konkelwerk te vermors nie.