fbpx

Selfsug is nie die Romeine se skuld nie

Deur on Okt 15, 2019

Nuuskommentaar: 15 Oktober

Westerse regstelsels is individualisties en materialisties – aldus die hoofmagistraat van Kaapstad, Daniel Thulare. In sy onderhoud voor die regterlike dienskommissie in die afgelope week het meneer Thulare selfs verder gegaan – en argumenteer dat Suid-Afrika eerder meer gebruik moet maak van die inheemse reg, wat, na sy mening, meer inklusief en meer empaties is.

Dit is besonder gerieflik dat sy geliefkoosde regsisteem van honderde jare gelede so presies binne politieke agendas van vandag val. Maar, ongeag, is dit belangrik dat ons nie wegskram van hierdie klaarblyklike onderskeid ondersoek nie.

Dit is, immers, nie ‘n onbekende beskuldiging nie – en so word die Weste as geheel gereeld beskuldig van ekstreme individualisme en selfsug.

Kan mens daarmee stry? In baie gevalle juis nie – en dit is maklik om te dink aan baie kulture en lande wat hulself hieraan skuldig maak.

Is hierdie, egter, ‘n probleem wat veroorsaak (of minstens vererger word) deur die reg? Dit is moeiliker om te bepaal.

Dit is die moeite werd om, daarom, te kyk na die prestasies wat hierdie sisteem behaal. Hier speel beginsels soos eiendomsreg en handelsvryheid ‘n veral belangrike rol – en dit is juis hierdie beginsels wat Thulare waarskynlik in gedagte gehad het.

Prent jouself in – as jy ‘n besoeker was aan ‘n moderne ekonomie, dalk van ‘n ander planeet of ander tyd af, wat sou jy sien?

Honderde mense werk elke dag in uiters komplekse strukture aan baie gespesialiseerde take. Om te werk in ‘n moderne ekonomie is om staat te maak op honderde mense om self ook hul werk te doen – in baie gevalle selfs sonder om hulle ooit te ontmoet.

Hoe merkwaardig hierdie sisteem is word slegs oortref deur hoe maklik dit is om dit as ‘n blote gegewe te aanvaar. Dink egter net aan, as ‘n enkele voorbeeld, die kos wat ons nodig het om van dag tot dag te leef.

Daar is geen manier vir Pretorianers om genoeg kos te produseer om te bly leef vir lank nie – alles kom, natuurlik, vanaf plase en produsente wat honderde of duisende kilometers vêr geleë is. As hierdie oneindige optog van mossels, appels, beesvleis en melk sou stop, hoe lank voordat Pretoria onleefbaar word?

Maar, ten spyte van hoe krities hierdie binneaarse voeding is, is dit nie nodig vir enige gegewe mens of amptenaar om verantwoordelikheid te neem daarvoor nie. Die natuurlike uitvloeisel van ‘n regstelsel wat eiendomsreg en handel moontlik maak is dat duisende individue mekaar dien met hierdie en ander produkte.

As enige tipe gedrag bevorder word deur ‘n vrye mark is dit waarskynlik juis dít – die omsien na die belange van jou naaste, selfs sonder noodwendig die besef dat dit is waarmee jy besig is.

Laat hierdie tipe vryheid ruimte vir selfsugtigheid? Absoluut. Maar dit laat ook die ruimte vir onbaatsugtigheid, naasteliefde en welwillendheid. Die selfsug wat op plekke in die Weste te siene is ‘n kulturele probleem – en nie een vanweë ‘n bepaalde regstelsel nie.

Ware ekonomiese vryheid (en dus nie die tipe wat deur karnallies in rooi oorpakke verkondig word nie) is ‘n voorafvereiste vir kultuurvryheid – en hierdie vryheid sluit ook die verantwoordelikheid vir barmhartigheid in.

Medemenslikheid en welwillendheid kan nie deur ‘n regsisteem in die lewe gebring word nie – en behoort ook nie.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist