Reuseprotesstem in Oos-Duitsland

Deur on

Nuuskommentaar: 2 September 2024

Deur: Jaco Kleynhans

Kiesers in twee Duitse deelstate, Thüringen en Sakse, het Sondag in ʼn historiese streeksverkiesing na die stembus gestroom. In albei deelstate was die deelnamekoers die hoogste sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog met ʼn groot meerderheid van die kiesers in albei deelstate wat diep ongelukkig is met die huidige stand van sake in Duitsland.

Dit is veral massa-immigrasie, Duitsland se ekonomiese stagnasie en die voortslepende oorlog in Oekraïne wat talle Duitsers grief. Die huidige federale regering in Berlyn, wat bestaan uit die Sosiaal-Demokrate, die Groenparty en die liberale FDP, is so ongewild dat ʼn reusenederlaag nou reeds vir al drie partye in die volgende federale verkiesing oor 12 maande voorspel word. Kiesers in Thüringen en Sakse het egter Sondag reeds hulle misnoeë getoon deur al drie partye hard te straf. In Thüringen het die FDP en die Groenparty al hulle setels verloor, terwyl die FDP ook heeltemal uitgestem is in Sakse. Die Sosiaal-Demokrate van die Duitse kanselier Olaf Scholz het ʼn historiese nederlaag in albei deelstate gely.

Die verkiesing in twee deelstate in die ooste van Duitsland volg net meer as ʼn week ná die wrede mesaanval in die stad Solingen in die weste van Duitsland waarin drie mense dood en talle beseer is. Die aanvaller is ʼn Siriese immigrant wat reeds verlede jaar gedeporteer moes word, maar dit het nooit gebeur nie. Die Islamitiese Staat-terreurgroep het verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar. Misdaad deur immigrante het die afgelope tyd skerp toegeneem in Duitsland.

Die Duitse ekonomie is tans in ‘n resessie en langtermyn stagnasie word gevrees. Dit gepaardgaande met hoë energiepryse en die invloed van die afgelope paar jaar se inflasie het tot ʼn skerp afname in besteebare inkomste vir baie Duitsers gelei.

Daar is ook groot ongemak, veral in die ooste van Duitsland, oor Duitsland se volgehoue steun aan Oekraïne en die feit dat niemand iets doen om die oorlog tot ʼn einde te bring nie. Daar is ʼn hoë koste verbonde aan hierdie oorlog vir Duitsers wat voorheen baie afhanklik was van goedkoop gas uit Rusland.

In Sondag se verkiesing was die regse Alternatief vir Duitsland (AfD) die groot wenner. Dié party het gemaklik eerste gekom in Thüringen, sy eerste oorwinning ooit in ʼn deelstaat. In Sakse het die party met net minder as 1% agter die sentrumregse Christen-Demokrate geëindig. Die ander groot wenner was die nuwe party van die bekende politikus Sahra Wagenknecht. Haar party kombineer harde linkse ekonomiese beleid met ʼn meer regse beleid oor immigrasie en identiteit. Tussen die AfD en Wagenknecht se party het bykans die helfte van die kiesers in albei deelstate ʼn protesstem teen die status quo uitgebring.

Ten spyte daarvan dat ‘n derde van kiesers in Thüringen en Sakse vir die AfD gestem het, lyk dit of die party uit albei deelstate se regeringskoalisies uitgesluit gaan word. Politici, en veral die huidige federale regering, in Duitsland het Sondag ʼn harde en duidelike boodskap gekry. Dit blyk egter of hulle nie daaraan gaan gehoor gee nie. Die gevolg sal net meer protes en politieke spanning in Duitsland, maar ook reg oor Europa wees. Kiesers is keelvol vir massa-immigrasie, ekonomiese wanbestuur en die voortslepende oorlog. Vir die huidige steur politici hulle egter nie daaraan nie.

Foto: Reuters


Current track

Title

Artist