Nuuskommentaar: 14 Augustus 2024
Deur: Herman Toerien
‘n Reuse, ondergrondse, vloeibare oseaan wat die ganse Mars twee kilometer onder water sou laat as dit op die oppervlak was, is deur navorsers by drie Kaliforniese universiteitskampusse ontdek.
Die data wat ontleed is, is van die InSight-landingstuig op Mars ontvang. Die tuig het reeds in 2022 onklaar geraak na dit in 2018 gelanseer is. ‘n Groot verskeidenheid data wat veral op die seismiese aktiwiteite op die Rooi Planeet gerig was, is egter ontvang en sedertdien ontleed.
Die tuig was dus uitstekend toegerus om navorsing te doen oor wat ondergronds op Mars aan die gang is. Die belangrikste was dat vasgestel is dat Mars nog seismies aktief is, en die manier waarop die seismiese golwe ondergronds deur verskillende rotslae, krake en water beïnvloed word kon ontleed word.
Die probleem is dat, vir die huidige in elk geval, die ondergrondse oseaan vir die doeleindes van menslike aktiwiteite op Mars onbereikbaar is. Die vlakste wat die water aangetref kan word, is 11 kilometer. Op die oomblik bestaan geen toerusting op aarde wat so diep kan boor nie. Die Russe het egter ‘n gat van meer as 12 000 meter diep gemaak. Dié diepte is in 1989 behaal maar boorwerk moes gestaak word oor die enorme hitte en hardheid van rotse.
Verskeie ander belowende aanduidings van ys op Mars wat heelwat vlakker is, is reeds gemaak. Daar is ook ‘n meer in ‘n krater ontdek wat ongeveer 35 kilometer in deursnee is. Die diepte van die ys, wat waarskynlik nie alles waterys is nie, is sowat 200 meter, maar wetenskaplike meen dit word deels deur duine onder die oppervlak opgemaak.
Die vonds van die oseaan, dui moontlik daarop dat Mars se water, wat eens indrukwekkende rotsformasies op die oppervlak gekerf het, nie noodwendig alles saam met die atmosfeer verdwyn het, toe dit deur die sonwinde weggewaai is nie.
Liquid ocean discovered beneath Mars surface (msn.com)
Foto: SkyNews