Hoofstuk 16 – 22 Augustus 2023
Ek is gevra vir ‘n kort skets ten aansien van die voorreg wat ek ‘n aantal jare gelede gehad het om vir ‘n tyd in ‘n bepaalde opsig nou gemoeid te wees met die wel en weë van Radio Pretoria, nou Pretoria FM, waarna ek ook sal verwys as “die Stasie”.
Die gebeure waarby ek betrokke was, het ‘n aanvang geneem toe die Stasie nog nie tien jaar oud was nie…
Vroeg in hierdie eeu, seker so in die jare 2000 en 2001, of selfs nog in die laat negentigs, het wyle Mike van den Berg, destyds ‘n prokureur en ‘n goeie vriend, die Pretoriase Balieraad, waarvan ek ‘n jare lange lid was, met ‘n versoek genader om ‘n Advokaat af te vaardig om deel te neem aan Radio Pretoria se weeklikse regsprogram waarvan Mike die aanbieder was.
Ek het aangebied om die uitnodiging te aanvaar.
Op daardie stadium was ek nog nie ‘n luisteraar van die Stasie nie, maar het wel van tyd tot tyd op die media daarvan gehoor en gelees. Vroeg een Saterdagoggend het ek die eerste uitsending van die program bygewoon.
Dit het plaasgevind in ‘n baie klein vertrekkie (ek huiwer om dit ‘n ateljee te noem) in die Stasie se destydse kantore in Braam Pretoriusstraat, Sinoville, Pretoria. Mike en ek het oorkant mekaar aan ‘n baie klein tafeltjie gesit.
Ons was die enigste deelnemers aan die direkte uitsending, waarvan die tegniese versorging behartig is deur ‘n baie groot en bekwame man, Mnr Pienaar as ek reg onthou, wat ook ‘n voormalige Sprinkbokatleet in Gewigstoot was. Mnr Pienaar het sy taak verrig agter ‘n baie klein en verslete gordyntjie wat so twee meter van Mike en ek af gehang het.
Mnr Pienaar het sy werk goed gedoen, want by my tuiskoms het my huismense die uitsending, wat hulle op band opgeneem het, vir my gespeel. Daar was verskeie sulke uitsendings wat ek bevoorreg was om aan deel te neem. Daar was meerdere deelnemers, en die uitsendings is vanuit ander lokale ook behartig.
Ek het begin belangstel in die Stasie, en het ‘n gereelde luisteraar geword, wat ek vandag nog is.
Destyds was daar nie sprake van ‘n deurnaguitsending nie. Dagsluiting, as ek reg onthou, was om 22h00, en het gepaard gegaan met speel van die Transvaalse en Vrystaatse Volksliedere. Uitsendings het begin, meen ek, om 05h00 met die hoefslag van ‘n perd wat deur die veld stap, met gepaardgaande veld- en voëlgeluide gevolg deur die pragtige voordrag van Die Stem van Suid Afrika deur wyle Johannes van der Walt.