2 Oktober 2023
Die VF Plus in die Vrystaat meen die plaaslike regering het ‘n verantwoordelikheid om boere wat die afgelope naweek grootskaalse verliese weens brande gely het, by te staan.
‘n VF Plus lid van die provinsiale regering in die Vrystaat, Armand Cloete sê die party het ‘n skrywe aan die premier van die Vrystaat, Mxolisi Dukwana gerig waarin hulle vra dat die provinsie tot ‘n rampgebied verklaar word.
Die brande het Saterdag in die omgewing van Verkeerdevlei, Harrismith, Koffiefontein, tussen Senekal en Marquard, asook tussen Winburg en Theunissen uitgebreek. Dit is sedertdien onder bedwang gebring, maar grootskaalse skade is aangerig.
Indien die gebied tot rampgebied verklaar word sal provinsiale hulpbronne beskikbaar gestel kan word om diegene wat geraak is, by te staan. Cloete sê hoewel kospakkies en ander noodsaaklikhede aan plaaswerkers uitgedeel word, is dit veral boere in die omgewing wat nou ondersteuning benodig.
Die VF Plus sal ook die Vrystaatse wetgewer versoek om die ontstaan, voorkoming en hantering van die veldbrande te ondersoek. Brandstigting en die owerhede se versuim om staatsgronde teen brande wat versprei te beskerm, is van die oorsake wat ondersoek moet word.
Foto’s: Wilmien Godrey, Facebook