Raka, die demografiese monster – 30 jaar later

Deur on

Deur: Dirk Hermann

Dertig jaar gelede is gestem vir iets anders.

Rye hoopvolles het gekronkel na ʼn nuwe bedeling.

Eers is gedink dit is goed. Dit is beding.

Vele het die nuwe wonderwerk met soveel lof besing.

Maar iets het daaruit opgestaan.

ʼn Lyf soos water wat vloei waar hy wil gaan.

Gedryf deur ʼn kop vol selfsug wat eet aan die trog waar die lyf ook al baan.

Uit die water het hy gestap en stil gelag,

gegryns, neergehurk en eers roerloos gewag.

Toe het die verhongerde lyf begin vloei deur die land,

met die kop wat weet

dis sy tyd om te eet.

“Dis Raka!” roep ʼn stem in die woestyn.

“Hy’s ʼn demografiese monster, ʼn resep vir die pyn.

Julle roep om demokrasie,

maar ontvang demografie.

Die snel ondier moet dood,

of hy sal heers oor ons, die gevolge is groot.”

Die stem word afgemaak as roepende na niks.

Raka is vreedsaam.

Raka is nie sleg.

Hy word maar net deel van ons en wat ons s’n is.

Dit is tog reg.

En Raka lag vriendelik en kry mooie name:

gelykheid,

diversiteit,

inklusiwiteit en

nierassigheid.

Nooi hom in, dié mooi dier is g’n monster nie.

Hy word tog ons almal tesame.

Raka se baan is geskik.

Sý pad is wet.

Daar’s walle waarbinne hy vloei, dis nougeset.

Wigte en teenwigte is vir balans in die baan.

Wat kan dan tog hiermee verkeerd gaan?

Maar Raka vloei vinnig en word selfs meer.

Hy vloei deur die staatsdiens en wittes retireer.

Pasop vir die kennis – dis oor jare gebou,

maar Raka se vloei hou aan beur.

Raka is honger en om op te eet, is die kop se wil.

Kom ons voer hom wit mans om die honger te stil.

Hulle kry pakkette en word na buite gedruk.

Hulle voel vreemd in hul jare se juk.

“Maak hulle minder,” is Raka se eis.

Raka se reis moet in syfers ook wys.

In die hoogste raadsale word oor Raka gepraat.

Gee hom tande sodat hy makliker kan vraat.

Raka se plundertog word wet.

Syfers en tabelle maak dié dier vet.

Dis regstelling, goed en wyd,

daar’s niks mee fout nie. Die tande moet byt.

Al word dit donker, word daar voortgewoed.

Dis mos alles deel van die groter goed.

Raka is honger en word treinspore gevoer,

vliegtuie word verslind en so ook hospitale se bloed.

Krane loop droog, riool vloei in strate

en kamerade kry tenders met sakke wat bult.

Dit alles is goed, want dit was apartheid se skuld.

Sy soet kwyl loop. Raka se gulsigheid ken geen perk.

Hy vreet en verslind nog meer as Zondo se werk.

Die kop word groter, gulsiger.

Die lyf ook groter, en nog hongerder.

Die lyf betaal die prys van die kop se gevreet

en die kop gebruik die lyf as die rede om te eet.

Raka het die staatsdiens oorrompel, maar gaan nou vir privaat.

Die raadsale skarrel, gedienstig aan die demografiese vraat.

Raka is nie gevaarlik nie, paai hom net.

Maar hy wil méér hê. Die monster raak vet.

Sakelui dink hulle weet,

maar Raka is nie paaibaar nie.

Wie paai, word later self opgevreet.

“Offer wat ons kan vir die groot hongersnood.

Ons moet voldoen, al is die prys ook hóé groot.”

Raka vloei die werkplek in, verdring die minderhede.

Hulle wyk uit na die kante, en party probeer ’n eie pad oopstoot.

Raka is soos water, hy vloei waar hy wil.

Hy stroom na universiteite om sy onversadigbare honger te stil.

“Kom binne,” sê die rektore, “want Raka is goed.

Ons akkommodeer jou taal, want jy’s mos nou deel van ons bloed.”

En Raka vloei in ʼn onstuitbare stroom

wat skuim deur die hek op pad na sy droom.

“Wat julle s’n is, word myne – dis wat ek preek.

Ubuntu is ek, jy, ons, dis my heilige spreuk.

Ons is mos dieselfde – jy soos my.

Jy word deel, anders word die sweer met mag uitgesny.”

Die rektore kyk verskrik na mekaar.

“Voer nog, anders is ons vir seker klaar.”

So dring Raka ʼn plek in.

Maak die hek eers oop, want dit maak sin.

As hy begin met sy vernietigingstyd sal niemand waag

om die smal hek ooit weer vir hom te sluit.

“Weg met dié wat dalk wil bewaar!

Ek duld dit nie! Dit is klaar!”

Afrikaans moet vlug voor die krag van die stroom.

Ons is mos een, dis ʼn grondwetlike seën.

Alles moet dieselfde klink én lyk

en dit is tog reg as die meerderheid so kyk.

Die universiteite raak toe soos die staatsdiens en plek van werk,

maar Raka is honger, sy vloeitog is sterk.

As ons werk, wil ons bly, maar die stroom is in die straat.

Woongebiede word Raka, dis mos net logies, my maat.

Dinge lyk nou anders, hier waar ons bly.

Sentrums en parkies het ʼn ander gevoel gekry.

Raka bly oral en nou staan hy voor die skool se deur.

Die demografiese stroom wil oor ons skoolgronde beur.

Die honger monster vra nou veel.

“Voer my jou kinders. Dis mos reg, jou voorvaders wou mos steel.

ʼn Amptenaar sal nou oor jou kind se toekoms praat.”

Raka is ʼn wapen in die hand van die staat.

Ons moet mos een word, is die monster se woord.

So maak Raka verskeidenheid dood.

Kultuur wyk voor die magshonger ryk.

Veelheid word eenheid. Jou stam moet wyk.

Weg met wie jy is, jou ras moet tel.

Beveg jy dit, maak hy jou lewe hel.

Xhosa, Sotho, Zoeloe, Afrikaner en ander moet wyk voor die Groot Verander.

Op Raka se kop staan “DIVERSITEIT”,

maar hy verslind gemeenskappe se taal- en kultuuruniekheid.

Die komplekse land word ons en hul,

net swart en wit – dít is die monster se wil.

Die valse eenheid het ons land deurtrek,

al smag gemeenskappe na verskeidenheid, erkenning, respek.

Vir minderheid is daar nie plek

en eise van Afrikaners om bloot te wees, is immers mos gek.

Mense probeer vlug van Raka se vloei.

Wie ons is, begin om te bloei.

Hulle is in plekke waar hulle moet uit.

Die Tweede Groot Trek begin, na en binne stede en suid.

Raka trek saam. Dit is sy pad.

Hy vloei waar die werk hom vat.

Verstom vra die mense: “Waar kom jy vandaan?

Ons het mos getrek, hoekom dan die argwaan?”

Raka soek grond en wil net vat.

Die parlement sit dit in ’n nuwe, sneller rat.

Die kop wil eet en die lyf kry swaar.

Die kop word dik, maar die lyf bly maer.

Die kop gee die lyf krummels om die honger te stil.

Toelaes word gegee. “Sien, ons luister na jul.”

Vir die middel is poste gegee en die elite kry die pot om aan te smul –

terwyl die sop so spat – sê hulle: “Sien, dis hul.”

Die middelgrond kan nie hou. Wat gaan Raka baar?

Daar kom ʼn breuk, vrees vir anargie lê swaar.

Waar word die wig ingehamer?

By die kop, mekaar of die ander?

Die ontnugtering in Raka is nou groot.

Die demografiese monster soek dan my dood.

Wat het geword van die walle waarbinne hy moes vloei?

Hy het dan nou met sy eie pad bemoei.

Die historiese skikking se wal is plat.

Raka is besig om ander penne in te slat.

Raka is nie meer mooi nie. Die gevaar is te groot.

“Wat nou?” word gevra. “Die dier moet dood.”

Die stem in die woestyn, word ʼn koor wat saamgons,

en ʼn antwoord word gekry – sélf sal ons.

Raka spoeg vuur en hy brul staatsmag.

Gemeenskappe werk en antwoord met gemeenskapskrag.

Walle vir Raka sal altyd oorvloei.

Konsentreer en bou, anders gaan ons bloei.

Plekke in die noorde en suide, net die beste.

Bou ʼn nuwe plek, buite Raka se stroom, in die weste.

Raka is ʼn demografiese vraat.

Die geveg teen hom is ʼn demografiese daad.

Dertig jaar later en die kronkelrye gaan weer stem.

Daar word gesmag na iets anders.

Die goeie moet tog wen.

Dis ook reg.

Mens stem teen sleg.

Maar Raka stroom ook na die stembus.

Groen, swart, rooi en geel, dis gewis.

Wat maak die monster, word gevra:

“Ek sal stem. Viva, my Azania.”

Dertig jaar later, dis tyd vir ʼn nuwe bedeling met dade beding.

Die tyd is verby om dit wat ons oor het, te besing.

Die wal het gebreek. Raka het sy eie stroom.

Antwoorde anderkant Raka, is waaroor ons moet droom.

Radikaal mag dit klink,

maar erger is om ʼn toekoms met net Raka te bedink.


Current track

Title

Artist