Pretoria FM trek op 4 Maart ‘n splinternuwe baadjie aan

Deur on

Pretoria FM skop op Maandag 4 Maart om 6h00 af met ‘n splinternuwe programrooster wat daarop gemik is om ‘n goeie balans tussen nuus, aktualiteit, inligting en vermaak te bied.

Die Uitvoerende Voorsitter van Pretoria FM, Willie Spies het in ‘n verklaring genoem dat die vernuwing van die radiostasie se programskedule deel is van Pretoria FM se proses om te vernuwe sonder om die waardes en inhoud waarvoor Pretoria FM oor meer as 30 jaar bekend geword het, prys te gee.

“Die stasie beleef tans ongekende groei op ons elektroniese platforms en dit is duidelik dat daar ook groei onder jonger luisteraars vir die stasie is. Die groei in Pretoria FM se volgers op sosiale mediaplatforms soos YouTube, Instagram, TikTok en selfs meer tradisionele platforms soos Facebook was in die afgelope paar maande eksponensieel.”

“Mense is op soek na betroubare hoofstroom nuus en aktualiteit wat vanuit die leefwêreld van die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskap aangebied word. Juis daarom is Pretoria FM ‘n groeiende gewilde tuiskomplek vir Afrikaanse luisteraars”, het Spies gesê.

Die nuwe weeksdag programrooster sien voortaan soos volg daaruit:

6h00 tot 8h00: Klankkoerant met James Kemp en Susan Botha

8:00 tot 10h00: Agt-tot-Tien-Kantien met Esmarie Yssel

10h00 tot 12h00: Soggens met Sarina, onder leiding van Sarina Bosman

12h00 tot 13h00: Landbou, onder leiding van Elsa Esterhuizen (Elsa is ook reeds bekend as ‘n gewilde voormalige aanbieder van die KykNET- landbouprogram Grootplaas)

13h00 tot 14h00: Impak met Este Gross (die program is die etensuur aktualiteitsprogram van Pretoria FM en staan onder leiding van die bekroonde radioaanbieder en rubriekskrywer, Este Gross)

14h00 tot 16h00: Annigang met Antowan Nöthling

16h00 tot 18h00: Huis Toe met Anton Meijer en Elsa Esterhuizen, en

18h00 tot 22h00: Vanaand met Pienaar Lochner

Die programaanpassings was die gevolg van uitgebreide marknavorsing onder bestaande luisteraars en ‘n indringende besinning oor die programinhoud tydens ‘n onlangse programkonferensie van aanbierders en ondersteuningspersoneel.

Pretoria FM is steeds gewikkel in litigasie en gesprekke met die uitsaai-owerhede om sy uitsaaivoetspoor oor die volle lengte en breedte van Suid-Afrika uit te brei. Danksy ons uitsendings oor DSTV se oudiokanaal 887 en die internet asook ‘n gebruikersvriendelike selfoontoepassing, is ons uitsendings reeds toeganklik en baie gewild regoor die land en selfs in die buiteland.


Current track

Title

Artist