Piet Retief: Agt mans borgtog geweier

Deur on

15 Junie 2021

Die agt mans, wat daarvan aangekla word dat hulle twee mans in Augustus verlede jaar op die Pampoenkraalplaas in die Dirkiesdorp-omgewing in Mpumalanga vermoor het, se borgtogaansoek het misluk.

Landdros, Dumisani Nxumalo het vanoggend in die Piet Retief-landdroshof in sy uitspraak aangevoer dat van die mans glo ‘n vlugrisiko is.

LEES OOK: PIET RETIEF: SAAK TOT VOLGENDE WEEK UITGESTEL

Die mans staar twee aanklagte van moord, een van poging tot moord, drie aanklagte van ontvoering en regsverydeling in die gesig nadat Sifiso Thwala en Musa Nene op dié plaas dood is. ‘n Derde persoon, Christopher Thwala het die beweerde voorval oorleef.

Nxumalo het ook in sy uitspraak weer van die ondersoekbeampte, adjudant-offisier, Vukile Nhlapho se vroeër getuienis aangehaal. Volgens Nhlapo het die oorledenes talle wonde aan hulle lywe gehad nadat hulle – volgens hom “vir langer as 30 minute met verskeie voorwerpe” aangerand is.

LEES OOK: PIET RETIEF: AGT MANS WEER VANDAG IN DIE HOF

Drie van die agt mans word ook aangekla van die moord op twee broers, Amos en Zenzele Coka.

Hulle is April vanjaar op dieselfde plaas dood. Die weergawes van dié gebeure verskil egter drasties. Beeldmateriaal, wat tydens die saak bespreek is wys hoe die Coka broers in ‘n stryery betrokke raak waarna die een broer na bewering die ander een skiet.

Die saak is tot 23 Julie uitgestel.

Hoop, Glo, Leef in Afrikaans.
Jou ondersteuning versterk Afrikaanse media. Hou jou taal op die lug.
Klik hier.


Current track

Title

Artist