Parlementslede Vrydagoggend ingehuldig

Deur on

13 Junie 2024

Parlementslede sal môreoggend om 10:00 ingehuldig word.

Die sekretaris van die parlement, Xolile George het vroeër vanmiddag die media toegespreek oor die parlement se gereedheid om die eerste sitting van die Nasionale Vergadering aan te bied.

Alle parlementslede wat môre teenwoordig is, sal ingehuldig word. George sê diegene wat nie môre teenwoordig is nie, sal op ’n latere stadium ook die geleentheid kry om ingehuldig te word. Die MK-Party se lede beoog om môre se sitting te boikot.

Die eerste parlementsitting word by die Kaapstad Internasionale Konferensiesentrum gehou. Die sentrum is as ’n parlementêre gebied verklaar.

“Ons het die Stadsaal gebruik vir die staatsrede, maar die eerste sitting van die parlement is anders as SONA. Ons moes ’n sentrum vind wat aan al ons behoeftes voldoen” het George gesê.

Die koste hieraan verbonde beloop R58 miljoen.

Hier is die verloop van môre se sitting:

  • Parlementslede word inghehuldig deur hoofregter Raymond Zondo.
  • Die Speaker van die parlement word verkies. Indien daar net een nominasie is, sal die persoon verkies word as Speaker. Indien daar meer as een nominasie is, sal parlementslede in die geheim stem vir die kandidate. Die kandidaat moet ’n meerderheid stemme kry om verkies te word. Indien daar nie ’n meerderheid gekry is nie, sal die kandidaat met die minste stemme elimineer word.
  • Daarna volg die verkiesing van adjunk Speaker. Dieselfde proses geld as met die verkiesing van Speaker.
  • Sodra die Speaker en adjunk Speaker verkies is, sal daar oorgegaan word na die verkiesing van ’n President. Hoofregter Zondo sal die proses behartig, en nie die nuutverkose Speaker nie.
  • As daar meer as een nominasie is vir President, sal daar in die geheim gestem word.
  • Die verkose president word bekend gemaak, en moet binne 5 dae ingehuldig word.

George sê dit lyk of die 19de Junie ’n gepaste datum te wees waarop die inhuldiging van die verkose president kan plaasvind.


Current track

Title

Artist