Opvolg: Drie liggame gevind in Jagersfontein na slikdam breek

Deur on

11 September 2022

Die premier van die Vrystaat, Sisi Ntombela het vanmiddag in Jagersfontein in die suid-weste van die provinsie aangekom waar ‘n slikdam se walle vanoggend ingegee het en modder die dorp oorstroom het.

Volgens ‘n verklaring deur die premier is drie mense se liggame in die modder gevind. 35 mense word tans in die Diamant-hospitaal in die dorp behandel.

Ntombela sê die provinsiale rampbestuursentrum is reeds ontplooi om reddingsoperasies te koordineer, terwyl vrywilligers van nie-winsgewende-organisasies soos Meals on Wheels en die Rooikruis ook na die gebied is om die behoeftes te bepaal.

Die minister van minerale hulpbronne en energie, Gwede Mantashe het ook sy reis na Suid-Soedan kort geknip en sal nou terugkeer na Suid-Afrika. Mantashe het tydens ‘n aanlyn-mediakonferensie gesê dat die myn, waaraan die dam behoort voorheen aan De Beers behoort het. 

LEES OOK: KYK: WALLE VAN SLIKDAM IN JAGERSFONTEIN BREEK, DORP OORSTROOM

Volgens hom was daar al hofsake oor die myn, maar wou nie meer besonderhede gee nie. 

Die VF Plus het ook sy medelye betuig met die inwoners van Jagersfontein. Adriaan de Bruyn van die party sê die woonbuurte Charlesville en Itumeleng is die ergste geraak, waar talle huise en informele wonings in die slik verwoes is.

“Die party simpatiseer ook met landbouers wat hektare weiding en vee in die voorval verloor het.” De Bruyn het namens die party die polisiediens, nooddienswerkers en lede van die gemeenskap bedank omdat hulle alles in die stryd werp om verligting te bring.

Hy sê die reeds sukkelende Kopanong-munisipaliteit het ongelukkig nie die kapasiteit of finansies om effektief te kan optree in hierdie situasie nie, aangesien geen rampbestuursplanne in plek is nie.

De Bruyn meen dit is betreurenswaardig dat so ‘n ramp eers moet plaasvind voordat munisipaliteite en die provinsiale regering die noodsaaklikheid van rampbestuursplanne en funksionerende departemente besef.

Die party eis ‘n dringende ondersoek na die oorsaak van die voorval.


Current track

Title

Artist