14 November 2023
Die minister van toerisme, Patricia de Lille en Suid-Afrika se direkteur vir Google, professor Alistair Mokoena het Maandag ‘n ooreenkoms onderteken waarin daar ooreengekom is dat Google Maps nié meer mense deur sekere van Kaapstad se informele nedersettings sal neem nie.
Dit kom na verskeie gevalle onlangs op die N2 waartydens motoriste met klippe gegooi is. Nyanga en ander omliggende gebiede sal voortaan nie meer op Google Maps verskyn nie.
Hierdie ooreenkoms is deel van die toerismedepartement se planne om Suid-Afrika te bemark as ‘n veiliger toeristebestemming.
Mokoena sê Google het saam met stadsowerhede gewerk om misdaad brandpunte te identifiseer.
Google Maps identifiseer roetes om ‘n persoon veilig by ‘n bestemming uit te kry, en kan soms gebeur dat dit mense deur informele nedersettings neem. Volgens Mokoena verskyn die veranderinge nog nie op die toepassing nie.
“Ons is nou besig met gesprekke met alle rolspelers, insluitend motorverhuringsmaatskappye om seker te maak dat almal op dieselfde bladsy is.”