Oom Dawie, “die radio se oppasser”, sterf

Deur on

27 Julie 2021

‘n Groot Pretoria FM-staatmaker, Dawie Scholtz, is gisteraand in die ouderdom van 89 oorlede, nadat hy in April met kanker gediagnoseer is.

Scholtz het reeds sedert die vroeg 2000’s vir langer as tien jaar Pretoria FM se toring in Kleinfontein opgepas en gesorg dat Eskom geskakel word wanneer die krag afgegaan het.

Hy sou selfs in die middel van die nag gaan diesel koop en die kragopwekker aan die gang sit as die krag vir lang tye af was.

Sy dogter, Theresa van Schalkwyk, sê haar pa het ‘n paar jaar gelede na die Harmonie Park-tuiste vir senior burgers in Sunnyside verhuis, waar hy die laaste ruk in die versorgingseenheid gewoon het. Hy is gisteraand in die Life Groenkloof-hospitaal se onkologie-eenheid oorlede.

Van Schalkwyk sê sy sal haar pa as ‘n positiewe mens onthou wat altyd die glas as halfvol beskou het. “Hy was lief vir grappies. Hy sou byvoorbeeld iemand in die pad sien loop en sing en dan vra of hy al vir ons die grappie vertel het van ‘n persoon wat loop en sing.”

Volgens haar was hy lief vir die bosveld, die natuur en vir sy taal, Afrikaans. Sy langbeen Jack Russel, Twakkies, was natuurlik sy ander groot liefde. “Hy het saam met my pa die toring opgepas en sou die slange verjaag.”
Scholtz laat sy vier kinders, Karin, Elmarie, Theresa, Gerhard, twee skoonseuns, ‘n skoondogter en vier kleinkinders agter… én vir Twakkies, wat nou op ‘n plaas by familievriende woon.

Hou Afrikaans op die lug

Klik hier


Current track

Title

Artist