21 November 2023
Die VF Plus sê hy sal die Gautengse regering se plan, om oor vier maande alle kinderpleegsorgsake self oor te neem, teenstaan.
Die party het dit in reaksie gesê op ‘n berig in die afgelope Sondag se Rapport waarin berig word dat kinderbeskermingsorganisasies nie meer vanaf 1 April 2024 finansiële hulp van die Gautengse regering sal ontvang vir kinderpleegsorgsake nie.
Die VF Plus se nasionale voorsitter en LPW in Gauteng, advokaat Anton Alberts meen die Gautengse regering het met die Life Esidimeni-tragedie gewys dat hy nie in staat is om na minderjariges en gestremde persone om te sien nie.
Hy sê die VF Plus sal ʼn aanmaning aan die departement van maatskaplike sorg rig om van die plan af te sien en by gebreke om daaraan gehoor te gee, sal ʼn klag by die menseregtekommissie (MRK) ingedien word.
“Ons sal ook kinderbeskermingsorganisasies bystaan met die daarstel van ʼn regspan en fondsinsameling om litigasie moontlik te maak. Dit is duidelik dat hierdie besnoeiings ʼn herhaling van die premier van Gauteng, Panyaza Lesufi, se pogings aan die begin van die jaar is om liefdadigheidsorganisasies se fondse te sny,” sê Alberts.
Volgens Alberts word hierdie fondse dan deur Lesufi herlei na sy eie verkiesingsprogramme soos die “aanstel van vredesbeamptes, aankoop van hommeltuie en die vervaardiging van noodknoppies.”
Hy sê die oorname van kinderpleegsorgsake is weereens ʼn bewys van Lesufi se behoefte aan sentralisering onder die staat waar laasgenoemde bepaal wie kwalifiseer vir hulp en wie nie.