fbpx

Ons kan leer by ons bure…

Deur on Mrt 19, 2020

Nuuskommentaar: 19 Maart

Twintig jaar gelede het Zimbabwe se brutale konfiskering van landbougrond begin.

Op 17 Januarie 2000 – het ses sogenaamde oorlogsveterane die plaas van Mnr. Alan Stockhill in die Masvingo-distrik betree en saam met 40 families gedreig om in te trek. Dit was die eerste plaasbesetting in Zimbabwe en sou die toon aangee vir die tragedie wat sou volg.

Teen Maart 2000 was meer as 150 plase regoor Zimbabwe reeds deur sogenaamde oorlogsveterane ingeval en beset.

Op 24 Julie 2001 is ‘n bejaarde boer, mnr. Ralph Corbett, dood nadat hy op sy plaas in die distrik Kwekwe aangerand is. Hy was die negende wit boer wat gesterf het sedert die grondbesettings begin het.

Vier dae later op 28 Julie 2001 het Mnr. Tony Barklay van die Chinhoyi-distrik hulp ontbied nadat hy deur ‘n groep oorlogsveterane bedreig is. Dit het gelei tot geweld tussen die boere en die oorlogsveterane en die inhegtenisneming van 22 boere.  Die boere is uiteindelik vir drie weke sonder verhoor aangehou.

Twee dekades later is Zimbabwe ekonomies op sy knieë en litigasie word steeds in internasionale arbitrasietribunale sowel as in die howe hier in Suid-Afrika gevoer om die verpletterende skade wat boere gely het as gevolg van die mees gruwelike misdade teen die mensdom wat Robert Mugabe en sy bewind teen inwoners van sy eie land gepleeg het onder die wakende oog van die Suid-Afrikaanse regering se “stille diplomasie”.

Internasionale druk op Zimbabwe noodsaak die bewind van Emerson Mnangagwa om skynbare toegewings te maak om die indruk te wek dat die oppergesag van die reg herstel word.

Verlede jaar het Zimbabwe met groot geskal aangekondig dat ‘n interim betaling aan onteiende boere gemaak sou word om die ergste lyding wat veroorsaak is deur die konfiskering van hulle eiendom, te verlig.

Uitbetalings is uiteindelik gemaak in die vorm van Zimbabwe se sogenaamde “bond notes”. ‘n Unieke betaalmiddel wat eintlik maar ‘n tipe staatseffek is waarop die Zimbabwe Reserwebank onderneem om een Amerikaanse Dollar te betaal vir elke een dollar “bond note”.

Die vertroue in die Zimbabwiese Reserwebank en regering is egter, met reg, so min dat die wisselkoers tussen die Amerikaanse dollar en Zimbabwe se dollar-vir-‘n-doller effekte onmiddellik na uitreiking getuimel het en ‘n 300% inflasiekoers teen November 2019 beteken het. Nodeloos om te sê dat die versukkelde land sedertdien weer ‘n nuwe geldeenheid geskep het waarvan die waarde nog vinniger tuimel.

In die lig van die voorgaande is dit nie ‘n verrassing dat die Mnagagwa bewind pas met ‘n nuwe poging gekom het om die swaard van kompensasie-eise oor die kop van die Zimbawiese staat, te probeer troef nie.

Die afgelope Vrydag is konsepwetgewing gepubliseer wat beoog om aan onteiende boere die geleentheid bied om onder sekere omstandighede hulle (nou vernietigde) plase in plaas van kompensasie terug te kry.

Hoe die wetgewing in praktyk gaan uitspeel of  realiseer is nog net ‘n kwessie van spekulasie en verseker sal daar sekere boere wees vir wie die teruggawe van hulle plase ‘n welkome uitkoms sal bied. Vir bejaarde en verarmde boere, wie se lewenslange werk vernietig is deur ‘n rassistiese onbesonne beleid, gaan dit egter kwalik help.

In die maande wat kom sal daar meer duidelikheid kom oor die toekoms van eiendomsreg en vergoeding in Zimbabwe maar die een feit wat vasstaan is dat Zimbabwe na 20 jaar van staatsdiefstal van grond, nou deur realiteite teruggedwing word na die teruggee van wat sonder vergoeding geneem is.

Ons kan leer uit die pyn van ons buurman.


Lees verder

Current track

Title

Artist