fbpx

Ons durf nie ingee op ons pensioen nie!

Deur on Feb 12, 2020

Nuuskommentaar: 12 Februarie

Dat die nasionale kragvoorsiener, Eskom, in ‘n penarie is, weet ‘n ieder en ‘n elk van Suid-Afrikaners.  Deeglik is ons daarvan bewus dat kersligetes nie meer ‘n romantiese saak is nie, maar ‘n alledaagse verskynsel geword het. 

Waaroor daar wel minder sekerheid is, is wat ons dan nou te doen staan onder hierdie omstandighede.  Wat doen ‘n land as een van die kernorgane van sy dag-tot-dag bestaan besig is om stelselmatig uit mekaar te tuimel?  Die grootste behoefte wat die kragreus het is natuurlik geld – juis omdat salarisse betaal moet word, onderhoud wat agterweë gelaat is aangepak moet word, en brandstof vir kragvoorsiening ontgin of aangekoop moet word.  Waar sal hierdie geld dan vandaan kom, dit is die vraag op die lippe van baie Suid-Afrikaners.

Dit is alreeds ‘n bitter pil om te sluk dat belasting geld tot dus ver aangewend is vir die redding van Eskom, maar nou het hierdie bitterheid eweskielik ‘n verdere gal geur bygekry.  Die vakbondfederasie COSATU het aan die begin van Februarie aangekondig dat hulle plan vir die oorlewing van Eskom is om geld uit die nasionale staatspensioen te put. 

Binne die koffers van staatspensioene lê daar reserwes van bykans 2000 miljard rand.  As ‘n mens dus duiwelsadvokaat wil speel, kan jy argumenteer dat 7 of 8 persent van hierdie reserwes seker nie die appelkarretjie sal laat omhel nie, en dit is tog vir ‘n goeie saak, so sou baie redeneer.  Om egter so te redeneer sou uiters verkeerd en gevaarlik wees. 

Ten eerste sou ‘n deur oopgemaak word wat nooit weer gesluit sal kan word nie.  Vir elke sukkelende staatsinstelling, wat feitlik elke een is, sal daar voortaan geld uit staatspensioen gegee kan word, juis omdat die beginsel hier en nou toegelaat is om deurgevoer te word.  ‘n Tweede saak wat oorweeg moet word is die rand-en-sent waarde waarvan hier gepraat word.  Om summier vas te kyk in ‘n persentasiewaarde verloor uit die oog uit dat hier gepraat word van duisende miljoene rande.  Dit is nie sommer maar net geld wat gegooi word in ‘n instelling wat nie sekerheid het of hy die einde van die jaar, wat nog te sê die einde van die dekade sal bereik in sy huidige formaat nie.  Hierdie pensioengeld verteenwoordig die kollektiewe aftreegeld van honderd duisende staatsamptenare, wat maandeliks getrou bygedra het.  Ons durf hulle opoffering nie onteer deur hierdie geld in ‘n bodemlose put te gooi nie.

Cosatu is verkeerd, pensioen behoort nie aangewend te word om Eskom te red nie.  Cosatu is wreed, want hulle eie lede, wat maandeliks ledegeld betaal en verteenwoordiging verwag, sal aan die kortste ent van hierdie beleid trek, en laastens: Cosatu is roekeloos, want ‘n gemeenskap wat met die lewensgehalte van sy oumense begin lol, is baie naby daaraan om sy menswaardigheid te verloor.


Laat 'n boodskap
  1. Sannie   On   Feb 12, 2020 at 4:14 pm

    Daar is al so baie uit die pensioenfonds “geleen”, dat ek kwalik kan glo dat daar R2 000 miljard oor is. Dink hier aan die VBS-bank, MTN en Steinhoff o.a. Daar is seker al baie meer. Daar is onlangs op RSG beweer dat daar maar net 59% van die pensioen oor is nadat almal betaal is. En daardie 59% is bereken op die bydraende pensioengeld wat nog inkom.

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist