fbpx

Okavango: Les vir SA in bewaring

Deur on Nov 18, 2019

Nuuskommentaar: 18 November

Die Okavango-delta in Botswana was onlangs onregstreeks in die nuus, nadat navorsers die Wieg van die moderne Mensdom na die Makgadikgadi-panne, wat in oorvloedjare met die delta verbind is, met genetika teruggespoor het.

Destyds was die Makgadikgadi deel van ’n reuse meer van sowat 30 meter diep, wat metteryd begin opdroog het nadat die meer na die noordooste begin uitloop het, en so die Zambezi se bo-loop wat in die meer uitgemond het, en die benedeloop verbind het. Die Kunene, wat ook in die meer uitgemond het, het ’n loop wat van die see af deurgebreek het, begin volg, en so is die watertoevoer ook verminder. 

Sedert 2014 is die delta weens sy uniekheid ’n Unesco-wêrelderfenisgebied, en dit sorg vir 13% van Botswana se BNP. ’n Verskeidenheid natuurwonders het gesorg vir die  wonderwêreld in ’n halfwoestyngebied. Aardkors-verskuiwingsvlakke as voortsetsel van die Oos-Afrika-skeurvallei het die gebied effens laat wegsink en ’n holte gevorm. Die talle eilande is weer die gevolg van termiethope wat verweer het en naderhand eilande kon vorm. Die water is vars, al is die grond in die middel van die eilande baie sout, omdat die bome en ander plantegroei op die eilande ’n soort korridor om die eilande gevorm het wat sout eenkant, en die deltawater aan die ander kant uit mekaar hou.

Tog vind prosesse reeds plaas wat op die duur die wonderwêreld bedreig. En ja, dié keer speel die mens ’n rol, anders as toe moeder natuur op allerlei maniere samgespan het om die ou binnelandse meer, soms selfs ’n see genoem, te laat opdroog.

Die twee huidige toevoerriviere, die Cubango en Cuito wat uit Angola kom, word toenemend vir besproeiingsboerdery gebruik , terwyl die warmer klimaat verdamping in die hand kan werk. Atesaam 98 persent van die water in die delta verdamp of gaan deur transpirasie verlore. Botswana kan self niks aan een van die twee faktore doen nie.

En sou die delta, soos die Makgadikgadi, wat eens so groot was dat dit as binnelandse see beskryf word, ook tot net panne wegkwyn, is dit nie net ’n onbegryplike groot natuurramp nie, maaar ook ’n ekonomiese ramp.

Sedert 2018 beskik Suid-Afrika nou al oor tien wêrelderfenisgebiede. Ongelukkig lyk dit of Suid-Afrika oor veel beter bemarkers beskik om UNESCO oor te haal om sulke gebiede tot wêrelderfenisgebiede te verklaar, as om na die beste bewaringsbelange van die gebiede om te sien. Kort-kort brand Tafelberg, en indringerplantegroei word dikwels geblameer. Die indringers word ook deels geblameer dat die waterstrome nie soos van ouds vloei nie, en boonop dit wat wel vloei, se drinkbaarheid erg aantas. Selfs die akwafirs wat eendag dalk Kaapstad in waterskaarstye van waardevolle bykomende waterbronne moet voorsien, kry minder aanvullende water omdat die watervraat indringers dit onderskep.

Bewaringskundiges wend hulle gereeld tot hul kuberpenne om te skryf oor hoe die Vredefortkoepelgebied ten gronde gaan. Selfs die geboue wat spesifiek opgerig is om die koepel te ondersteun, is daar gereeld mee skroewe los. Boonop vloei die Vaalrvier, wat hopeloos besoedel is, deur die koepel. En as iets verkeerd moet gaan, wys die vingers na mense wat nie net iets daaraan kon doen nie, maar daarvoor verantwoordelik was. Dis ’n skande.  


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist