1 Oktober 2024
Die Gautengse provinsiale regering sê hy sal afstand doen van sy ooreenkoms met die Nasionale Tesourie – om R4,1-miljard rand te betaal vir die instandhoudingsagterstand op Gautengse paaie – indien die ouditeur-generaal dié uitgawe afkeur.
Volgens die LUR vir ekonomiese ontwikkeling, Lebogang Maile, handel dit oor ‘n tegniese punt aangesien dié paaie nie deur die provinsie besit word nie, maar deur die SA Nasionale Padagentskap, Sanral.
Maile sê indien die ouditeur-generaal só ‘n uitgawe as vrugtelose uitgawes klassifiseer, sal die provinsie dit nie kan betaal nie.
Die Organisasie teen Belastingmisbruik, OUTA, se uitvoerende hoof, Wayne Duvenage het sy verbasing uitgespreek en sê dat hy nie kan verstaan dat die provinsiale regering nie die rekeningkundige beginsels begryp van só ‘n besluit nie.