Nuwe denke oor globale veiligheids- en ekonomiese risiko’s nodig

Deur on

Nuuskommentaar: 19 Februarie 2024

Deur: Jaco Kleynhans

Die jaarlikse München-veiligheidskonferensie het verlede week die lig duidelik laat skyn op die groeiende veiligheidsrisiko’s wêreldwyd. Byna twee jaar ná die uitbreek van die oorlog in Oekraïne, dreig die konflik tussen Israel en die Palestyne om in ’n groter Midde-Oosterse konflik uit te kring, terwyl waarskuwings toeneem dat China binnekort ’n militêre aanslag op Taiwan kan loods. In talle lande op byna elke kontinent het konflik, burgeroorloë en vrese vir groter globale konflik die afgelope maande toegeneem.

Die Chinese minister van buitelandse sake, Wang Yi, het oor die naweek in München die Weste gewaarsku dat dit ’n historiese fout sou wees indien Westerse lande, veral die VSA, sou poog om ekonomies, en wat veiligheidsamewerking betref, van China te ontkoppel. Meer as ses jaar gelede het die Amerikaanse president Donald Trump reeds ’n proses begin om wesenlike veiligheids- en ekonomiese risiko’s in die samewerking tussen die VSA en China aan te spreek.

Die Europese Kommissie het verlede maand ook ’n nuwe strategie aangekondig waarvolgens die Europese Unie se ekonomiese veiligheid versterk gaan word juis omdat duidelike bewyse van Chinese ekonomiese spioenasie ontbloot is. Beide die VSA en Europa is veral bekommerd oor tegnologie-uitvoere na China en die aktiwiteite van Chinese tegnologiemaatskappye in hulle lande.

Die spanning tussen China en die Weste wat by die München-konferensie duidelik was, strek egter veel wyer en hou verband met ’n groter, toenemend goed georkestreerde poging van die sogenaamde “Globale Suide”, oftewel ontwikkelende nie-Westerse lande, om Westerse hegemonie en dominansie teen te werk.

Twee reuse-uitdagings in Westerse lande en verbonde ontwikkelde lande soos Japan, is die kombinasie van demografiese en ekonomiese stagnasie. Duitsland, Brittanje en Japan verkeer reeds in ’n resessie. Resessies dreig regoor die ontwikkelde wêreld.

In al hierdie lande is daar ook ’n groeiende krisis met staatskuld. In België het die regering verlede week oor ’n onvolhoubare groei in skuld gewaarsku. Byna geen ontwikkelde land verkeer nié tans in ’n skuldstrik nie. Soos die skuldstrik het die meeste ontwikkelde lande ook ’n demografiese probleem met ’n lae bevolkingsaanwas en gevolglik verouderende bevolking. 

Daarteenoor het talle opkomende en ontwikkelende lande in Asië en Afrika, soos Indië en Indonesië, reeds jare lank ekonomiese groei hoër as inflasie en sterk bevolkingsgroei wat ’n gesonde aanbod van jong werkers verseker.

Terwyl die Chinese genoeg van hulle eie ekonomiese en demografiese probleme het, geld dit nie vir die meeste ander ontwikkelende lande nie. Wanneer daar dus oor toekomstige globale samewerking in die voorkoming van konflik gepraat word, soos verlede week in München, is dit noodsaaklik dat lande soos Indië, Indonesië, Saoedi-Arabië, die Verenigde Arabiese Emirate, Turkye, Ethiopië, Rwanda, Mexiko en Brasilië deel van die oplossing eerder as deel van die probleem moet wees.

Die meer selfgeldende geluide uit die Weste, veral oor hoër militêre besteding in Europa, is goed en nodig. In vergelyking met die Globale Suide, is die Weste egter ekonomies en demografies aan die kwyn. In plaas daarvan om China toe te laat om munt hieruit te slaan, moet die Weste leiding neem in ’n sterk alliansie wat veiligheid en ook ekonomiese geleenthede in ’n toenemend multipolêre wêreld verseker. Die alternatief, ’n stryd tussen die ontwikkelde wêreld en die Globale Suide, skep reuseveiligheids- en ekonomiese risiko’s vir die hele wêreld.


Current track

Title

Artist