6 Desember 2022
Oud-president Jacob Zuma het uitgevaar teen die Helen Suzman-stigting se poging om aan te sluit by die privaat vervolging wat hy teen die staatsaanklaer, advokaat Billy Downer, ingestel het.
Die stigting het ’n aansoek ingedien om as ’n vriend van die hof toegelaat te word.
Volgens Zuma het die Nasionale Vervolgingsgesag nie die leiding van misleide persone nodig, wat hulle neus in ander se sake steek nie.
Die stigting se aansoek sal later in die week aangehoor word.
In sy aansoek het die stigting aangevoer dat Zuma se saak nie gaan oor die verkryging van ‘n skuldigbevinding teen Downer nie, maar eerder om sy eie politieke belange te bevorder en aanspreeklikheid te vermy.
Zuma hou vol dat dit nie die geval is nie. Hy het die stigting se argument – dat hy die private vervolgingstelsel misbruik – as belaglik bestempel.
Voorts sê hy die stigting se argument – dat hy die vervolgingsgesag se onafhanklikheid aanval – is onsinnig.