20 Desember 2021
Die departement van korrektiewe dienste sê net omdat oudpresident Jacob Zuma se siektetoestand onder beheer is, beteken nie dat hy genees is van sy terminale siekte nie.
Die departement voer in sy hofstukke aan dat daar objektiewe bewyse is dat Zuma aan ‘n lewensgevaarlike toestand ly.
Die departement se appèlaansoek sal môre aangehoor word, nadat die Noord-Gautengse hooggeregshof verlede week bevind het dat die besluit om Zuma op mediese parool vry te laat, onwettig en irrasioneel is.
Regter Elias Matojane het beveel dat Zuma weer moet terugkeer tronk toe om sy 15 maande vonnis uit te dien en het ook gesê dat die tyd wat hy op mediese parool buite die tronk spandeer het, nie moet tel as deel van sy vonnis nie.
Intussen verkeer die ANC onder toenemende druk om sy strukture toe te laat om die oudpresident openlik in sy hofstryd te steun. Die ANC in KwaZulu-Natal sal vandeesweek met die party se Top 6 vergader, nadat hulle aangedui het dat hulle Zuma in sy appèlaansoek teen sy tronkstraf wil steun.