11 Augustus 2023
Die burgerregteorganisasie, AfriForum sê hy beskou die departement van korrektiewe dienste se besluit om Jacob Zuma kwyt te skeld van sy vonnis as ’n belediging vir geregtigheid en die oppergesag van die reg.
Dit kom nadat die kommissaris van korrektiewe dienste, Makgothi Thobagale vanoggend aangekondig het dat Zuma onderwerp is aan die kwytskeldingstelsel wat glo van toepassing is op alle ander gevangenes.
Die organisasie meen die tyd wat Zuma op parool deurgebring het tel nié as die uitdiening van ’n vonnis nie.
“Daar is nie ’n meer bevoorregte en beskermde posisie in Suid-Afrika as om ’n ANC-kader te wees nie. Zuma se spesiale behandeling en ontwyking van geregtigheid bewys dit weereens. Dit is duidelik dat die ANC sal verseker dat nie een van sy kamerade ooit tyd agter tralies deurbring nie, al maak dit ’n bespotting van die oppergesag van die reg in hierdie land,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.
