Deur: James Kemp
’n Gebruiker van die sosialemediaplatform X wat deur die nuusbron News24 as Sebastiaan Jooste geïdentifiseer is, loop onder dreigemente deur nadat sy persoonlike besonderhede deur dié nuusbron gepubliseer is. Jooste, wat onder die profiel @twatterbaas gebruik het, se naam, dié van sy familielede, sy werk- en woonadres is deur News24 gepubliseer in ’n artikel waarin hulle die anonieme profiel “ontmasker”.
Jooste se prokureur, Wian Spies, van die prokureursfirma Hurter Spies Ingelyf, het aan Nuusweek gesê dat die onthulling ’n ingrypende invloed op sy kliënt se lewe het en dat hy vir sy lewe vrees. Spies sê sy kliënt het binne sy reg opgetree toe hy van ’n skuilnaam gebruik gemaak het om aan debatte op X deel te neem, en dat die praktyk om ’n skuilnaam te gebruik die bestaan van sosialemediaplatforms voorafgaan. Sedert sy naam bekendgemaak is, het Jooste verskeie dreigemente ontvang wat die omstrede lied “Kill the Boer” insluit. Sommige dreigemente sluit in dat besoek afgelê sal word by die gastehuis wat hy saam met sy ouers bedryf.
Spies sê verder dat News24 met die onthulling van sy naam hulself aan “doxing” skuldig gemaak het. Dit is wanneer ’n sosialemediagebruiker se persoonlike inligting bekendgemaak word waar die gebruiker verkies het om plasings onder ’n skuilnaam te maak. Verskeie van Jooste se ondersteuners het die verslaggewer wat die artikel geskryf het, Kyle Cowan, en News24 by X verkla oor die oortreding van X se doxing-beleid. Volgens Spies neem sy kliënt dikwels deel aan omstrede debatte en vind hy dit nodig om sy identiteit te beskerm.
Jooste se profiel geniet baie ondersteuning op X en word selfs deur die bekende sakeman en hoofaandeelhouer van X, Elon Musk, gevolg.
Spies sê News24 het nie die reg gehad om sy naam bekend te maak nie en dat hulle tans verdere optrede ondersoek. Hy sê verder dat die bewering dat sy kliënt vals inligting op X versprei het nie waar is nie, en dat hy dikwels inligting gedeel het wat oorspronklik deur ander organisasies soos AfriForum geplaas is.
Skermskote van die dreigemente wat Jooste op X ontvang het.