21 Junie 2023
Wie bedryf die ekspedisies na die wrak van die Titanic?
Die tuig word bedryf deur `n maatskappy met die naam Oceangate. Die betrokke tuig wat vermis geraak het, die Titan, neem passasiers na die Titanic se wrak teen `n bedrag van $250 000 per persoon. Die wrak is sowat 3 800 meter onder die see se oppervlak.
Daar is gewoonlik vyf mense aanboord – een operateur, drie betalende passasiers en een kenner.
Oceangate was van voorneme om verskeie ekspedisies vanjaar na die Titanic te onderneem maar weens slegte weerstoestande in Newfoundland in Kanada is dit verminder na net een ekspedisie.
Is die ekspedisie gevaarlik?
`n Joernalis, David Pogue, wat die ekspedisie in 2022 onderneem het, vertel dat hulle streng vrywaringsvorms moet onderteken wat onder meer lui dat hulle verstaan dat die Titan `n eksperimentele tuig is, dat geen regulatoriese liggaam dit goedgekeur het nie en dat jy beseer kan word of selfs kan sterf tydens die reis. Daar is ook verskeie wrakstukke wat in die omgewing van die Titanic ronddryf waarin die Titan verstrengel kan raak of teen kan bots.
Wie is aanboord die Titan?
Hamish Harding
Britse sakeman en avonturier wat met drie Guinness Wêreldrekords spog.
Foto: theweek.in

Stockton Rush
Uitvoerende hoof en stigter van Oceangate Beperk wat ook die operateur van die Titan was tydens die mees onlangse sending.
Foto: Princeton Alumni Weekly

Paul-Henry Nargeolet
Voormalige Franse vlootoffisier, duiker en iemand wat self betrokke is by onderwaterverkenning. In 1987 was hy ook betrokke by die eerste herwinningsekspedisie na die Titanic. Hy word ook gereken as een van die voorste kenners van dié historiese wrak.
Foto: Wikipedia

Shahzada Dawood en sy seun Suleman
Die familieonderneming Dawood Hercules Corporation, is in Karachi, Pakistan, gesetel en is betrokke by landbou, die petrochemiese bedryf en telekommunikasie. Shahzada is ook `n trustee van die SETI Instituut wat opsoek is na intelligente lewe in die buitenste ruim.
Foto: Flipboard.com

