22 Januarie 2025
Die Wêreld Gesondheidsorganisasie (WGO) sê die VSA se president Donald Trump se besluit om sy land van dié organisasie te onttrek is ‘n jammerte.
Trump het Maandag, net na sy inhuldiging, ‘n bevel onderteken wat die VSA van die WGO onttrek, omdat hy glo dat die VSA meer betaal as China en dat die WGO Amerika ingedoen het.
Trump het ook aangevoer dat die WGO nie die Covid-19-pandemie na behore hanteer het nie.
Die woordvoerder van die WGO, Tarik Jasarevic het in Genéve gesê die WGO speel ‘n belangrike rol om die gesondheid en sekuriteit van die wêreld se mense, wat Amerika insluit, te beskerm.
Hy het die hoop uitgespreek dat Amerika sy besluit sal heroorweeg en dat daar ‘n konstruktiewe dialoog sal kan plaasvind om die vennootskap tussen die VSA en die WGO te behou ten bate van die gesondheid en welstand van miljoene mense regoor die wêreld.
Die Europese Kommissie het intussen sy kommer uitgespreek oor Trump se besluit en sê dit kan die reaksie op toekomstige pandemies ondermyn.