29 Desember 2021
Suid-Afrikaners word herinner dat vuurwerkvertonings slegs gehou kan word indien ‘n permit vooraf bekom is ongeag of die vertoning op openbare eiendom of private eiendom plaasvind.
Luidens ‘n verklaring deur die Tshwane-metro is daar verskeie faktore wat oorweeg is voordat ‘n permit uitgereik kon word.
Die area waar die vuurwerke afgevuur word moet minstens 100 meter van enige geboue, spoorlyne of paaie wees. Daar moet ook geen telefoonlyne, kraglyne of enige bome binne 20 meter van die gebied wees nie.
Vuurwerke kan slegs afgevuur word indien daar skriftelike toestemming verkry is vir private sportsgronde, plase of kleinhoewe. Géén vuurwerke mag in woonbuurte afgevuur word nie.
Enige persoon wat dié vereistes verontagsaam kan ‘n boete van tussen R1000 en R2500 opgelê word.
Besighede moet ook ‘n lisensie hê indien hulle vuurwerke wil verkoop. Dié lisensie word deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens uitgereik. Dit word ook aan die betrokke stad of dorp se nooddienste gestuur vir goedkeuring. Besighede wat nié die nodige toestemming het om vuurwerke te verkoop nie, kan ‘n boete van R2500 verwag.
Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) het ook in ‘n verklaring ‘n beroep op mense gedoen om te dink aan diere voordat vuurwerke afgevuur word.
Die DBV in Durban het ‘n beroep op troeteldiereienaars gedoen om te verseker dat diere mikroskyfies het. ‘n Kruie-kalmerende medisyne kan ook gebruik word om diere rustig te hou.