Aand met Jaco Versfeld

Sondae
17:00 - 00:00

Luister nou

Volgende

Westerse lande sal dringend immigrasiekrisis moet hanteer

Nuuskommentaar: 7 Desember 2022

Deur: Jaco Kleynhans

Die Britse Kantoor vir Nasionale Statistiek het onlang bekend gemaak dat die netto migrasie na die Verenigde Koninkryk in die twaalf maande tot Junie vanjaar tot meer as 500 000 gestyg het. Die oorgrote meerderheid mense wat na Brittanje immigreer, is uit nie-Westerse lande soos Indië en ander lande in Asië, die Midde-Ooste en Afrika afkomstig.

Die amptelike data sluit natuurlik nie onwettige immigrante in nie. Die afgelope paar maande was daar ʼn skerp toename in onwettige immigrasie na die Verenigde Koninkryk. Terwyl een uit elke ses mense wat tans in Brittanje woon oorsee gebore is, is sowat een uit elke drie persone van immigrante-agtergrond. Britte is besig om ʼn minderheid in hulle eie land te word.

Aan die anderkant van die Engelse kanaal het die probleem van onwettige immigrasie sedert die groot instroming van 2015 nog nooit opgehou nie. Duisende onwettige immigrante kom weekliks in Europa aan, en al probeer die nuwe regering in Italië om die stroom van immigrante uit Noord-Afrika en die Midde-Ooste te stuit, is hulle pogings tot dusver nie juis geslaagd nie.

In 2015 het 1,3 miljoen onwettige immigrante, meestal uit Midde-Oosterse lande soos Sirië, Afganistan en Irak in Duitsland aangekom. Byna al hierdie immigrante het sedertdien burgerskap in Duitsland gekry en ook hulle gesinne het sedertdien in Duitsland hervestig. Sedert die Duitse kanselier Angela Merkel in 2015 gesê het “Wir schaffen das”, oftewel “Alles sal regkom” en sy tydelik Duitsland se grense vir immigrante uit die Midde-Ooste oopgegooi het, het die instroming nog nooit opgehou nie.

Verlede jaar het 1,3 miljoen mense na Duitsland geïmmigreer. Hierdie syfer sluit nie onwettige immigrante en asielsoekers in nie. Die getal mense wat om asiel of vlugtelingstatus in Duitsland aansoek doen, het verlede jaar ʼn rekordhoogtepunt bereik. Volgens die mees onlangse data is soveel as 35% van mense wat tans in Duitsland woon van immigrante-afkoms. Ook in Duitsland sal Duitsers uiteindelik ʼn  minderheid in hul eie land word.

Die afgelope weke was daar ook in Nederland ʼn hewige debat oor immigrasie en die geweldige druk wat die honderde duisende vlugtelinge wat jaarliks in Nederland aankom op die land se regeringsdienste plaas. Terwyl ʼn groot meerderheid van Nederlanders voel dat die getal vlugtelinge wat geakkommodeer word, verlaag moet word, hou die regering vol om groot getalle onwettige immigrante en sogenaamde vlugtelinge in Nederland te huisves.

Sedert Joe Biden minder as twee jaar gelede president van die Verenigde State van Amerika geword het, het daar reeds sowat twee miljoen wettige en veral onwettige immigrante in die VSA aangekom. Volgens amptelike data is daar tans sowat elf miljoen onwettige immigrante in die VSA, maar verskeie organisasies wat ten gunste van strenger grensbeheer is, beweer dat die syfer veel hoër is. Die krisis in die VSA is tans so erg dat president Biden se regering oorweeg om die streng asielregulasies wat in 2020 deur Donald Trump ingestel is, maar wat verlede jaar deur Biden geskrap is, weer in te stel.

Immigrante in Westerse lande plaas ʼn groeiende las op die onderwysstelsel en ander regeringsdienste soos mediese, maatskaplike en welsynsdienste. Sou ʼn oplossing nie binne die volgende paar jaar gevind word nie, kan die huidige vlakke van wettige en onwettige immigrasie na Westerse lande tot groot ontwrigting en selfs konflik lei.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Gewilde Nuus

PADWAARDIG

SOE ondersoek OUTA se verslag oor bedrieglike padwaardige-sertifikate

WapensvirSAPD_17April2025

AfriForum oorhandig nuwe “wapens” aan polisieminister se lyfwagte

POLISIE2-1

10 000 speurders sluit by privaatsektor aan of bedank in die afgelope 9 jaar

NA Exterior

OUTA vra vir strenger regulering van voordele aan openbare ampsdraers

VAPE-1

DA nader gesondheidsdepartement oor tieners se gebruik van damptoestelle

Ander Nuus Artikels

Donald Trump
Nuuskommentaar: Die ANC se stryd teen Trump én realiteit
NWU
NWU sê hy bevind geen bewyse van sangoma-ritueel nie
ENOCH1-large
“Geen hofsaak sal BTW-verhoging keer nie”
PADWAARDIG
SOE ondersoek OUTA se verslag oor bedrieglike padwaardige-sertifikate
WapensvirSAPD_17April2025
AfriForum oorhandig nuwe “wapens” aan polisieminister se lyfwagte

Aand met Jaco Versfeld

Sondae
17:00 - 00:00

Luister nou

Volgende