Nuuskommentaar: 14 Maart 2023
Deur: Jaco Kleynhans
Xi Jinping is verlede week deur die Chinese Nasionale Volkskongres formeel tot ʼn derde termyn as president van China aangewys. Die Volkskongres is geen demokratiese instelling nie maar wel ʼn jaarlikse rubberstempelvergadering vir die Chinese Kommunistiese Party. Xi is nou amptelik die eerste Chinese president sedert die wrede diktator Mao Zedong wat meer as die gebruiklike twee termyne as president sal dien.
Naas die verwagte bevestiging van pres. Xi se derde termyn is China se nuwe premier, adjunkpresident en belangrike kabinetsposte ook verlede week gevul. Alle aanstellings dui op ʼn versterking van Xi se magsgreep op China en daarmee saam ʼn billike verwagting dat nog meer hervormings wat sedert 1979 in China deurgevoer is, oor die volgende paar jaar ongedaan gemaak kan word.
Dit was egter veral pres. Xi se aanvallende retoriek jeens die VSA wat verlede week opslae gemaak het. Xi het Amerika daarvan beskuldig dat dié land China ekonomies probeer isoleer en omsingel. Die Chinese minister van buitelandse sake, Qin Gang – ʼn voormalige ambassadeur in die Verenigde State – het ook verlede week teen die VSA uitgevaar en het beweer dat die VSA ʼn bedreiging vir China inhou. Ook sommige Europese lande het onder sy skerp retoriek deurgeloop.
Mao Zedong se radikaal-kommunistiese bewind tussen 1949 en 1976 het tot die dood van miljoene mense en geweldige isolasie en ekonomiese probleme in China gelei. Teen 1979 het Deng Xiaoping as leier van die Kommunistiese Party die eerste wesenlike hervormings in China ingestel wat tot skerp ekonomiese groei, gedryf deur uitvoere, industrialisering en verstedeliking sou lei. Vanaf 1979 tot 2013 is ʼn breë hervormingsbeleid in China gevolg wat tot ʼn groter skeiding tussen die Kommunistiese Party en die staat gelei het en wat ekonomiese hervormings en nouer bande met die Weste tot gevolg gehad het.
In 1999 het die Amerikaanse president Bill Clinton ʼn groot rol gespeel in China se toelating tot die Wêreldhandelsorganisasie (WHO). Ook die Chinese het groot omsigtigheid aan die dag gelê om konflik met die Weste vermy. Toe Amerika in 1999 per ongeluk die Chinese ambassade in Belgrado, Serwië, gebombardeer het, het die Chinese regering die Amerikaners se verskoning onmiddellik aanvaar.
Die afgelope dekade het dinge onder die leiding van Xi Jinping egter stadig maar seker begin verander. China se ekonomiese groei die afgelope tien jaar was die helfte van wat dit die voorafgaande drie dekades was. Verlede jaar het China se bevolking vir die eerste keer in dekades begin krimp. Die land staar ernstige ekonomiese uitdagings in die gesig.
President Xi en sy lojaliste, wat ook almal verlede week in senior regeringsampte aangestel is, se antwoord hierop is die aanwakker van ʼn nuwe soort Chinese nasionalisme wat die Weste met ernstige agterdog bejeën. Verder het Xi die afgelope paar jaar die skeiding tussen party en staat heeltemal laat vervaag en is die mag ook weer toenemend in die presidensie gekonsentreer.
Dit is egter die groeiende breuk tussen China en die Weste wat groot risiko vir globale stabiliteit, vrede en ekonomiese voorspoed inhou. Die Weste en China het mekaar nodig om vrede en globale ekonomiese groei te bevorder, maar alle aanduidings is dat die verhouding oor die volgende paar jaar net verder kan versleg en dat dit tot heelwat onstabiliteit kan lei.
Westerse lande en China stuur op breuk af