Agt tot Tien Kantien

Maandae tot Vrydae
08:00 - 10:00

Luister nou

Volgende

Westdene-busramp: 40 jaar later

Deur: Esmarie Yssel 

Op 27 Maart 1985 is die Westdene-gemeenskap in Johannesburg tot in sy fondamente geskud toe ’n geel dubbeldekker-skoolbus met 70 leerlinge van die Hoërskool Vorentoe aan boord kort voor 14:00 op die Woensdagmiddag in die Westdene-dam beland het. 42 kinders is in die ramp oorlede.

Vanjaar is dit die veertigste herdenking van dié ongeluk wat in oorlewendes, geliefdes van oorledenes, nooddienste asook medici en omstanders se herinneringe ingebrand is.

Die 54-jarige Elize Ledden (née Venter) was 14 jaar oud en in standerd agt (die huidige graad 10) toe sy daardie middag op die boonste vlak van die bus saam met haar vriende gesit het. Sy sê sy onthou die ongeluk in fyn besonderhede.

Elize Venter en John Gordon in 1985.

“Reuke en geluide kom dadelik terug na ’n mens toe. Die bus het links geswenk en ek het teruggekyk na ons vriende wat agter ons gesit het. Die kinders wat voor gesit het, die standerdsessies, het opgespring en begin skree, en toe ons vorentoe kyk, toe’s ons reeds in die lug op pad in die dam in. Ál die voorste vensters het gebreek, en die water het baie vinnig ingekom. Daar was nie veel kans vir ons om iewers uit te kom nie. Ons het almal na die agterkant van die bus probeer beweeg, maar ons was baie vinnig onder water. Ek onthou dat ek probeer lug skep het teen die dak, maar daar was niks. Ek onthou ook dat ek baie staal gevoel het en dit was baie donker. Toe het ek lig gesien en ek het na die lig toe beweeg. Ek is deur een van die skuifvensters en toe het iemand my uitgetrek, vertel Ledden.

Sy het egter eers in haar veertigs vir die eerste keer begin praat oor die gebeure en die trauma wat daarmee gepaard gegaan het, en dis tóé dat sy besef het watter groot impak die gebeure op die hele gemeenskap gehad het.

Ledden onthou ál die name van kinders wat daardie dag as helde na vore getree het.

Die 17-jarige Pieter Koen het vyf mede-leerlinge van ’n gewisse waterdood gered, maar die sesde keer wat hy afgeduik het was die laaste: Sy heldedade het sy lewe gekos.

John Gordon en Elize Ledden 40 jaar ná die Westdene-busramp. (Foto: Verskaf)

26 helde is met die Wolraad Woltemade-dekorasie vir Dapperheid vereer. Hulle is onder andere Koen, John Gordon, Theo de Koker, Matthys Wehmeyer, Danie du Toit en Renette van Deventer.

Dit was Gordon wat Ledden se lewe gered het. Hy was ’n skraal 15-jarige wat twee kinders uit die bus getrek het.

Gordon – wat al 25 jaar lank in Kaapstad woon – het nes Ledden vir dekades nie oor die gebeure gepraat nie.

Hy sê hy het sy lewe lank geworstel met wat gebeur het. Hy is ná sy weermagdae met depressie gediagnoseer, maar sy lewe het doel en rigting gekry toe hy in 1994 sy vrou ontmoet het. Vandag is hy ’n trotse pa van 3 dogters en breëbors oupa van 5 kleinkinders.

Gordon en Ledden het mekaar nou vir die eerste keer sedert die busramp weer gesien.

“My vrou en Elize het mekaar op Facebook opgespoor en dís hoe ek en Elize weer in kontak met mekaar gekom het. Dit het baie oorreding van my vrou geverg, maar ek is so dankbaar, want my gesprek met Elize het vir my krag gegee. Ek is nou 55 jaar oud en kan nou my hart oopmaak en leegmaak,” het Gordon aan Nuusweek gesê.

Pieter Steyn was een van die nooddienswerkers van Johannesburg se nooddienste wat op die toneel aangekom, sy pak klere uitgetrek en in sy onderklere in die dam gespring het.

“Daar het al meisies op die bus gesit, ek het afgeduik en nadat ek een meisie na die oppervlak gebring het was daar ’n seun vir wie ek gevra het of hy oukei is. Hy’t gesê: ‘Ja-nee oom, ek is reg,” en toe duik hy weer. Toe ek weer bo kom, vra een van die meisies waar Pieter is, maar hy het nie weer opgekom nie. Ek het eers agterna uitgevind dat dit Pieter Koen was. Ek is van mening dat ek die laaste persoon was wat met hom gepraat het toe ek hom gevra het of hy oukei is.”

Dis Steyn se droom om ’n gedenknaald vir die jong held in die dam op te rig.

Die werklike oorsaak van die ongeluk kon nooit vasgestel word nie.

Die busbestuurder, William Philip Horne, was volgens berigte later jare ’n raadslid van die Onafhanklike Demokrate in die Wes-Kaap en is in 2010 aan kanker oorlede.

Gordon se boodskap aan die geliefdes van sy medeleerlinge wat in die Westdene-busramp omgekom het, is dat ás hy hul pyn kon ligter maak, hy dit sonder huiwering sou doen.

“Dít wat ek gedoen het, het ek instinktief gedoen vanweë die band van liefde wat daar tussen ons klasmaats was. Die busramp het my lewe in baie opsigte heeltemal verander. Dit het ’n deel van my geword, al kon ek dit nie kies nie. Ek sou dít wat ek gedoen het wel wéér doen as ek moes, sonder vrae of twyfel.”

 

One Response

  1. Ek en van my vriendinne het jare voor die ongeluk ook in so bus oor die dam gery. Die volgende dag na die ongeluk het twee vriendinne my by die werk gebel en beide het gese: kan jy onthou, jy het altyd gese eendag is eendag gaan hierdie bus in die dam inry. Die spoed wat die busbestuurders om daardie hoek gery het was angswekkend

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Gewilde Nuus

element-1-780x470-1

Video met politici se gesigte op urinale veroorsaak herrie

unnamed

Die Johannesburg-metro het ‘n nuwe speaker

masels2-1

Uitbreking van masels tref ook die Vrystaat

TSHWANE2

Tshwane-metro samel 98% van sy beoogde begroting in

AA1HNbdW

KYK: Sewe mense nog vermis na ontploffing in vuurwerke-pakhuis

Ander Nuus Artikels

david
Ramaphosa en ander politieke leiers betreur David Mabuza se dood
The-South-African
Voormalige adjunkpresident van Suid-Afrika sterf
Low,Section,Of,Elementary,Students,Sitting,In,Row,In,Classroom
Nuuskommentaar: Skoleveiligheid moet ook gemeenskap se fokus wees
element-1-780x470-1
Video met politici se gesigte op urinale veroorsaak herrie
unnamed
Die Johannesburg-metro het ‘n nuwe speaker

Agt tot Tien Kantien

Maandae tot Vrydae
08:00 - 10:00

Luister nou

Volgende