26 Oktober 2023
Wêreldrugby sê hy het Engeland se Tom Curry se bewerings teen die Springbok-haker, Bongi Mbonambi op hersiening geneem, asook bewerings van ‘n soortgelyke voorval in November verlede jaar.
Dit kom nadat Curry in die 28ste minuut van die semi-finaalwedstryd tussen Engeland en Suid-Afrika, die haker daarvan beskuldig het dat hy rassistiese uitlatings teenoor hom gemaak het.
Volgens Wêreldrugby het daar te midde van die gebeure nog ‘n bewering aan die lig gekom dat Mbonambi soortgelyke uitlatings gemaak het tydens ‘n wedstryd in November 2022. Dit gons sedertdien onder Springbok-ondersteuners of Mbonambi toegelaat sal word om in die eindstryd te speel.
LEES OOK: MBONAMBI SE “RASSISTIESE” OPMERKINGS IN HALFEINDSTRYD WORD ONDERSOEK
Wêreldrugby sê in ‘n verklaring dat hy talle beskikbare bewyse soos die wedstrydbeeldmateriaal en klank deurgegaan het, en het ook spelers aan beide kante ondervra.
“In hierdie stadium is daar nog nie genoeg bewyse om voort te gaan met enige klagtes nie, en beskou ons die aangeleentheid as afgehandel totdat daar enige verder bewyse aan die lig sou kom.”
Hulle sê verder hulle glo Curry se bedoelings met die klagte was opreg en dat dit nie kwaadwillig was nie.
Foto: SkySports