21 Januarie 2022
Die Wêreldbank het vroeg vanoggend aangekondig dat hy Suid-Afrika se aansoek vir ‘n lening van $750-miljoen, of sowat R11,4-miljard rand goedgekeur het.
Dié bank en Suid-Afrika se Nasionale Tesourie het in ‘n gesamentlike verklaring gesê dat die lening toegestaan is vir Suid-Afrika se stryd teen die Covid-19-pandemie. Dit is ook veronderstel om die land se ekonomie ‘n hupstoot te gee te midde van uitdagings, wat deur die pandemie vererger is.
Die direkteur van die nasionale tesourie, Dondo Mogajane sê dié lening kom op ‘n kritieke tyd vir die land. Hy sê die geld sal help met die finansiering van kritieke gesondheidsprogramme.
In Julie 2020 is ‘n lening van $4,3-miljard deur die Internasionale Monetêre fonds aan Suid-Afrika toegestaan.