Nuuskommentaar: 6 Junie 2023
Deur: Jaco Kleynhans
Die vyf ministers van buitelandse sake van die Brics-lande se vergadering verlede week in Kaapstad het wêreldwyd opslae gemaak. Dit was egter nie weens die groot planne wat aangekondig is nie, maar wel oor die uitdaging oor wat om te doen sou pres. Wladimir Poetin besluit om in Augustus die Brics-beraad in Suid-Afrika by te woon.
Sedert die aanvanklike Bric-groepering in 2001 ontstaan het, en nadat Suid-Afrika in 2010 by die groep aangesluit het en dit voortaan Brics sou heet, is daar baie gepraat oor hoe hierdie groepering as ʼn alternatief tot byvoorbeeld die G7-lande of ander Westerse groeperinge sou kon dien.
Die idee van ʼn Brics-bank, ʼn eie geldeenheid en selfs breë politieke en ekonomiese alternatiewe tot liberale Westerse demokrasie is al deur die Brics-lande bespreek. Tot dusver het daar egter min hiervan gekom.
Dit is ʼn feit dat die vyf Brics-lande, en eintlik eerder die aanvanklike vier lede naamlik Brasilië, Rusland, Indië en China, wesenlike en selfs groeiende globale invloed het. In baie opsigte is Suid-Afrika ʼn baie klein, minderwaardige rolspeler binne Brics. Die vyf Brics-lande verteenwoordig saam 42% van die wêreld se bevolking, maar slegs 23% van die totale globale produksie en slegs 18% van internasionale handel.
Die idee dat die Brics-groepering dus binnekort ʼn direkte teenpool, veral ekonomies, vir byvoorbeeld die G7-lande kan word, is onrealisties. Terwyl dit verlede week duidelik was dat sommige van die huidige lidlande graag wil sien dat meer lande in veral Suid-Amerika, Afrika, die Midde-Ooste en Asië by Brics moet aansluit, is dit onduidelik wat die samebindende faktore van só ʼn groepering kan wees. Vanuit verlede week se beraad het dit geblyk dat die enigste samebindende faktor ʼn breë afkeer van Westerse, en veral Amerikaanse, mag en invloed is, veral weens die dollar se rol.
Terwyl Indië duidelik ten gunste van ʼn alternatiewe wêreldorde is waarin die VSA en die Weste se mag in die algemeen verminder, is Indië ook nie ten gunste van China se groeiende globale magsrol nie. Dié twee lande verskil wesenlik van mekaar oor baie sake.
Dit is ʼn feit dat die Weste tans verswak is. Swak politieke leiers, veral in die VSA en Europa, groot binnelandse verdeeldheid in Amerika en selfs verdeeldheid in Europa oor die oorlog en ander binnelandse kwessies skep groot uitdagings.
Vir nou word 59% van sentrale bankreserwes in die wêreld in Amerikaanse dollar gehou. Die oorgrote meerderheid van handel in kommoditeite vind in dollar plaas. Dit is maklik vir Brics-lande om oor ʼn alternatief vir die dollar te praat, maar dit gaan baie moeilik wees om ʼn alternatief in werking te stel.
Intussen is lande soos Suid-Afrika en Brasilië, maar eintlik ook Indië, China en potensiële nuwe Brics-lidlande, uiters afhanklik van handel met die Weste. Vir die Suid-Afrikaanse regering is vanjaar se Brics-byeenkomste ʼn geleentheid om globale leierskap te probeer toon. Die risiko dat Suid-Afrika swakker eerder as sterker hieruit gaan kom, is baie groot. Lande soos Brasilië en Indië speel ʼn versigtige spel in hulle verhouding met die Weste en byvoorbeeld Rusland en China. Suid-Afrika moet eerder versigtig wees om nie te veel van die Brics-lande te verwag nie, en tweedens om die risiko’s van ʼn Brics-alliansie wat homself meer direk teen die Weste stel, duidelik te verreken.
Foto: Reuters
