19 Mei 2021
Die minister van verdediging en militêre veterane, Nosiviwe Mapisa-Nqakula het tydens haar begrotingsrede in die parlement gesê die vermindering van dié departement se begroting het dit in ‘n netelige posisie geplaas.
Die departement se begroting vir die medium-termyn is vir die derde agtereenvolgende jaar gesny en dié keer met meer as R50-miljard.
Die minister het aan die parlement gesê die tekort aan geld het ‘n negatiewe invloed op die land se verdedigingsmeganismes in die algemeen en die militêre vermoëns in die besonder. Sy sê dit gaan ook die land se internasionale verantwoordelikhede raak.
Volgens Mapisa-Nqakula het die besnoeiings ‘n vernietigende uitwerking op die industrieë wat die verdedigingsektor moet ondersteun.
Intussen het die leier van die VF Plus, dr. Pieter Groenewald gesê dat die SANW geen meer rede bied vir Suid-Afrikaners om op trots te wees of hom te vertrou nie.
Volgens Groenewald is ‘n land se weermag veronderstel om die trots van ’n nasie te wees aangesien dit sy soewereiniteit moet beskerm. Hy meen dit is nie die geval met die SANW nie en daar is tye wanneer ’n mens eerder jou kop in “skaamte laat hang oor die weermag.”