30 Mei 2023
“Die kwartaallikse misdaadstatistiek bied ʼn weerspieëling van misdadigheid wat die gevolg is van ʼn krimpende ekonomie en die desperaatheid van werklose Suid-Afrikaners wat hulle toenemend tot misdaad wend om te oorleef.”
Dít volgens die leier van die VF Plus, dr. Pieter Groenewald nadat die minister van polisie, Bheki Cele vanoggend die misdaadstatistiek bekend gemaak het vir die tydperk van 1 Januarie tot 31 Maart.
In die eerste drie maande vanjaar is 6 289 moorde aangeteken teenoor 6 083 ʼn jaar gelede. “In die vierde kwartaal (Januarie tot Maart) van die 2018/19-boekjaar, was daar 4 896 moorde, ʼn toename van 1 393 vir dieselfde tydperk binne net vier jaar,” sê Groenewald.
LEES OOK: MISDAADSTATISTIEK: MOORD NEEM MET 3,4% TOE
Hy sê verlede jaar is 27 066 mense vermoor. Dit kom neer op 2 256 per maand of 76 elke dag.
Ander geweldsmisdade wat skerp toegeneem het sedert die ooreenstemmende tyd verlede jaar, is poging tot moord (8.3%), aanranding (7,6%), roof (8,9%) en gewapende roof (5,1%).
Hy sê plaasmoorde het luidens die statistiek afgeneem van 17 moorde in die eerste drie maande verlede jaar tot agt vanjaar. “Hier moet egter in gedagte gehou word dat boere toenemend maatreëls tref om hul eie veiligheid te verseker. Dit is duidelik dat gewone Suid-Afrikaners toenemend uitgelewer is aan misdaad en dat misdadigers al hoe meer desperaat en gewelddadig raak.”
Hy sê met ʼn polisiemag wat al hoe minder beskerming bied, moet die publiek self groot kostes aangaan om hulself, hul geliefdes en eiendom te beveilig.
