1 Oktober 2024
Die nasionale waterdepartement sê daar is genoeg waterreserwes om te verseker dat waterverskaffing nie geraak sal word tydens die ses-maande-lange sluiting van die Lesotho Hoogland Waterprojek-tonnel nie.
Watertoevoer deur dié reeks tonnels sal vandag afgesluit word vir instandhoudingswerk wat na verwagting teen volgende Maart voltooi sal wees.
Lesotho verskaf ‘n aansienlike hoeveelheid water aan Suid-Afrika, wat aan die land se grootste grootmaatverskaffer, Rand Water, gaan.
Die departement van waterwese sê dat daar jaarliks 700-miljoen-kubieke meter water deur dié stelsel aan Suid-Afrika se damme verskaf word.
Volgens ‘n woordvoerder van die departement, Mandla Mathebula is daar vooraf 780-miljoen kubieke meter water na die land se damme oorgedra om voorsiening te maak vir moontlike tekorte.
Foto: Salemane Letlotlo, Discover Lesotho