14 November 2022
Teen 15:00 vanmiddag is talle inwoners van Bethlehem in die Vrystaat se watertoevoer nog nié herstel nie.
Dit kom nadat swaar reënval tot kitsvloede in groot dele van die dorp gelei het. Talle brue en paaie moes Vrydag gesluit word weens die reën.

Die Dihlabeng-plaaslike munisipaliteit het in ‘n verklaring gesê dat werk by die Saulspoort Water-suiweringsaanleg weens die swaar reënval nie voltooi kon word nie, wat beteken dat talle mense steeds nie water het nie.
LEES OOK: AGT SLUISE VAN VAALDAM OOP
‘n Onafhanklike raadslid op die dorp, Isoldé Laesecke sê ondanks skade aan talle besighede kon die meeste van die sakeondernemings vanoggend weer hulle deure open. Sy het teen 14:30 vanmiddag gesê dat kontrakteurs begin het om water te pomp, maar het ‘n beroep op mense gedoen om geduldig te wees weens die feit dat die reservoirs leeg is.
Besigheidseienaars meen hoewel hulle besighede oop is, maak die tekort aan water dit vir hulle moeilik om hulle ondernemings te bedryf as daar nie water is nie. 29 mense moes weens die vloede deur noodwerkers uit hulle huise gered word.
Foto’s: Isolde Laesecke.