Nuuskommentaar: 28 Junie 2022
Deur: Werner Human
Na meer 4 jaar se werk en R1 miljard se belastinggeld is die Zondo-kommissie se werk voltrek. Die kommissie se verslag beslaan meer as 5 500 bladsye, wat in 6 dele verdeel is en die grandiose skaal van staatskaping in fynere besonderhede uiteensit.
Alhoewel dit onmoontlik is om die volle omvang van staatskaping aan die lig te bring bly die werk van die Zondo-kommissie van kritieke belang. Die belangrikste bydrae van die werk van die Zondo-kommissie is dat volskaalse staatskaping van gegronde bewerings tot bewese feite vasgemaak is.
Die skokkende beeldmateriaal en getuienisse vorm ook nou deel van ʼn permanente openbare rekord wat maklik bekombaar is. Die ANC sal in die toekoms heelwat moeiliker die korrupte aard van hulle bewind kan verbloem. Ons samelewing is al dekades lank gewoond aan die werklikheid van korrupsie, maar ons monde het steeds oopgehang ná van die getuienisse gelewer is.
Enkele noemenswaardige oomblikke is onder andere, Yakhe Kwinana van die SAL wat die uitgee van tenders aan die hand van die verkoop van vetkoeke probeer verduidelik het; Jacob Zuma se kortstondige verskyning waar hy groot gewag gemaak het dat die werk van die kommissie deel van ʼn sameswering teen hom vorm; Des van Rooyen wat aangevoer het dat dit, na slegs enkele ontmoetings met Gupta-familielede, nodig was om hulle in sy administrasie aan te stel; en natuurlik Angelo Agrizzi wat die blatante wyse van korrupsie ontbloot het deur bewyse te lewer van miljoene rande se kontant en geskenke wat in tasse by ANC-hoës afgelewer was.
Selfs president Cyril Ramaphosa het onder skoot gekom toe die kommissie bevind het dat hy in ʼn posisie was om staatskaping vroeër aan te spreek – hy was immers in 2014, in sy hoedanigheid as adjunk-president, aangestel om ʼn oorsig oor staatsondernemings te hou.
Wat nou verder ná die kommissie se verslag?
Daar is tientalle bevindinge gemaak wat daarop gerig is om beter stelsels daar te stel om korrupsie te bekamp en daar is meer as 100 mense genoem wat deur die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) met die oog op vervolging ondersoek moet word. Op dié punt het advokaat Shamila Batohi, die nasionale direkteur, telkemale verwys na die NVG wat nie genoegsame kapasiteit het om behoorlike ondersoeke te loods wat tot skuldigbevindinge kan lei nie.
Die noodsaaklikheid om skuldiges van blink Stefaanspakke in oranje oorpakke te kry, is nog ʼn verregaande droom.
Verder, dat die werk van die kommissie as ʼn afskrikmiddel kan dien, het in die lig van die sowat R15 miljard se Covid-korrupsie wat gepleeg is, ook geen doel gedien nie.
Die ondersoekende joernalistieke webwerf, Daily Maverick, meen die grootste tekortkoming van die kommissie se verslag is dat dit nie aangedui het wááromstaatskaping plaasgevind het nie.
Dit is inderdaad so dat dit ʼn belangrike vraag is, maar die openbare gesprek hieroor handel ook nie eerlik hiermee nie. Die rede vir grootskaalse korrupsie dui aan op ʼn gebroke staatsbedeling wat gehelp het om gunstige omstandighede vir staatskaping te skep.
Die teenwigte wat in die Grondwet ingebou is, het nie gewerk nie en tot en met daar nie eerlik oor die onwerkbare ontwerp van die huidige bedeling besin word nie, sal korrupsie en die demodernisering van Suid-Afrika ongelukkig ʼn permanente verskynsel wees.