Nuuskommentaar: 24 Maart 2023
Deur: Franco van der Berg
Internasionale norme dikteer dat ʼn onderstebo vlag ʼn teken is van opgee, oorgee, of dringende nood. Behoort die Suid-Afrikaanse vlag dan onderstebo te wapper? Dit hang af vir wie jy vra.
Met die opwinding wat gewoonlik met ʼn sportgeleentheid gepaardgaan, stuur die EFF vroeër vanjaar ʼn veldtog van stapel wat die hele land deur bemark word, op die ganse internet verskyn en op almal se lippe die woorde, #NationalShutdown,laat. Die land se rooi oorpakke word kwansuis afgestof en kapsels word reggeruk, want hiérdie keer gaan die land tot stilstand gedwing word.
Op Maandag, 20 Maart is diegene onder ons wat vroeg gespring het met hulle langnaweek se verlofbeplanning tuis, kinders is nie by die skool nie (want dit is ʼn langnaweek), sommige ondernemings het vroeg toegemaak sodat hulle werknemers ook ʼn smakie van die langnaweek kan hê, en die res van die land? Net nog ʼn normale dag. Dié wat nie verlof gehad het nie, is by die werk. Mense ry die wêreld vol en sit aan by restaurante terwyl gesinne kwaliteittyd saam met mekaar spandeer.
Dit klink nie regtig soos ʼn land wat tot nasionale stilstand geruk is nie, doen dit?
Twitter sê egter iets anders; wat waar is vir die een is gevolglik nie waar vir die ander nie. Aldus die EFF se hoogste, Julius Malema, was dit ʼn onbetwyfelbare sukses en volgens hulle het hulle dit reggekry om die land se vlag op Maandag, 20 Maart 2023 onderstebo te laat wapper. Duisende Twiets word die platform ingestuur; almal deur dieselfde EFF-volgelinge wat voorgeneem het om deel te neem natuurlik. Dit wil egter vir die res van die land blyk asof die wêreld wel nie tot stilstand gedwing is nie, dat die vlag nie onderstebo is nie en dat daar bykans geen stilstand was nie.
Die stilstand wat daar wel was, was ondernemings wat hulleself op onluste, soos ʼn paar jaar gelede, voorberei het. Dieselfde party wat die gekkerny gedryf het beskou dít ook as ʼn waarmerk van sukses. ʼn Mens kan egter net wonder of dit regtig as ʼn sukses beskou kan word wanneer mense op diefstal en plundery voorberei wanneer jy ʼn samekoms aankondig?
Wanneer partye hulself op publisiteit toespits en nie werklike organisering nie, gebeur wat ons dié week gesien het. Niks. Net soos voorspel het die wêreld net aangegaan. Sonder om te twyfel kan enige buitestander sê dat dit wel onsuksesvol was.
Dit laat wel ʼn leemte, want die beskouing tans is dat sukses nie iets is wat vir hulle beskore is nie. Die EFF het wel bewys dat nie eers ʼn protesoptog suksesvol gehandhaaf kan word nie. Geen sleutelpunte se bedrywighede is onderbreek nie, niemand het in vrees weggekruip soos wat die beplanning sou wou inspireer nie, en tallose vriende, gesinne en uitgebreide families het net saam gebraai.
Die vlag, ten spyte van dit wat diegene in die rooi oorpakke glo, hang nie onderstebo nie. Die teendeel is waar, Suid-Afrikaners regoor die spektrum het bewys dat dit belangriker is vir hulle om hulle lewens te leef en ongedeerd voort te gaan, as om aan ʼn quasi-rewolusie deel te neem.
Die #NationalShutdown het bewys dat Suid-Afrikaners prioriteite het.