Nuuskommentaar: 31 Januarie 2023
Deur: Werner Human
Een van die mees bekendste sirkustoertjies is die jongleertoertjie waar die opvoerder eers ʼn paar balle in die lug hou net om lateraan meer en meer balle vernuftig in die lug te hou, totdat al die balle uiteindelik in die lug tuimel.
Dit verg uitnemende hand-oog-koördinasie om dié toertjie uit te voer, en selfs die mees gesoute persoon kan slegs ʼn beperkte aantal balle in toom hou.
Iewers móét die balle egter val en dan is dit chaos, wat natuurlik vir groot vermaak vir die toeskouers sorg.
Alhoewel die toeskouers by ʼn sirkus geen regstreekse gevolge dra wanneer die balle val nie, is dit nie die geval vir ons landsburgers wat moet toekyk hoe die regering klomp balle laat val nie.
Die onlangse vergadering tussen die Eskom-raad en parlementslede het in chaos ontaard nadat ANC-LP’s die vergadering ontwrig het. Dié vergadering het ten doel gehad om meer eensgesindheid tussen Eskom en die parlement te kry. Dit was egter op die ou einde ʼn sirkus gewees.
Die afgelope tyd was daar groot kommer oor die beskikbaarheid van water in die komende tyd. Alhoewel Suid-Afrika oor die algemeen as ʼn waterskaarste land beskou word, stel dr. Anthony Turton, ʼn waterbestuurkenner: “Dit is die institusionele mislukkings, die institusionele onvermoë om te beplan, om te voorspel, om te begroot en om infrastruktuur te bestuur; dít is wat misluk het so nou sien ons dag-zero wat deur die land trek – aanvanklik van Kaapstad af – en nou sien ons dit manifesteer in Johannesburg.” Vlakke van beurtwater is reeds in dele van Gauteng toegepas. Dit is ʼn sirkus.
Te midde van alles is dit sowaar in Eskom se beplanning om van 500 wit werknemers in Eskom ontslae te raak, as deel van hul rassetransformasieplanne. Hoe Eskom nie kan sien dat rassetransformasie en dít wat daarmee gepaard gaan sekerlik die grootste sondebok vir staatsverval in die algemeen, én in die besonder die verkrummeling van Eskom is nie, gaan ʼn mens se verstand te bowe. Dit is ʼn sirkus.
Die lys van al die balle wat val is nog veel langer. Hoe dan gemaak wanneer daar te veel balle val?
Die geneigdheid is om vorentoe te spring en te probeer om hulle te vang. Maar, dit is tevergeefs. Daar is net té veel balle wat die opvoerder in die lug gehad het.
Dit is juis daardie geneigdheid wat ons moet afleer. Ons moet eerder ons aandag probeer toespits op aksies wat ons as gemeenskap – en onsself ook – versterk.
Byvoorbeeld, Rural Maintenance, ʼn nutsmaatskappy wat meer as 30 jaar bestaan, het dit gedoen. Rural Maintenance is ʼn privaat maatskappy wat die elektrisiteitsbestuur in Frankfort, Cornelia en Villiers oorgeneem het. Sedertdien lewer hulle die goedkoopste krag in daardie gebiede.
Hulle het dit gedoen deur ʼn vennootskap met boere in die omgewing te vestig en twee sonplase op te rig.
Die uitvoerende hoof, Chris Bosch, meen waarom kan hierdie nie by ander vervalle dorpe gedoen word nie?
As Rural Maintenance daarop gefokus het om die balle wat die regering laat val, te vang, sou hulle nooit na ʼn oplossing groter as die probleem gesoek het nie.
Hierdie beginsel is van toepassing op ʼn wye verskeidenheid gebiede nl. veiligheid, onderwys, dienslewering en die werksmag.
Moenie die balle wat die regering laat val probeer vang nie. Dit is tevergeefs. Spits jou eerder daarop toe om oplossings vir jou gemeenskap te vind – jy mag dalk net ʼn sonplaas in ʼn vervalle dorp begin …