4 Oktober 2023
Die 77-jarige akteur, George Ballot bekend vir sy rol as Skollie in die TV-reeks, Vyfster is vroeër vandeesweek dood in sy huis in Riebeek-Kasteel gevind.
Netwerk24 berig dat Ballot se buurvrou, Louisa Gerryts die polisie ontbied het toe sy onraad vermoed het. Volgens haar het hy op sy bed gelê met sy selfoon steeds in sy hand.
Hy is glo alreeds Saterdagoggend oorlede.
Gerryts sê sy en Ballot het elke dag gepraat en toe sy Vrydag laas van hom gehoor het toe weet sy iets is nie pluis nie. Sy het na sy huis oorkant die pad geloop en gesien sy motor staan steeds in die oprit.
Volgens Gerryts het hy die laaste ruk gesukkel met sy bloedsomloop.
Intussen stroom huldeblyke op sosiale media in. ‘n Vriendin van hom, Melissa Ludick sê sy en Ballot het nou en dan op sosiale media gekommunikeer.