19 Augustus 2022
Nog twee kinders is dood na gister se voorval by die Laerskool Vyfhoek buite Potchefstroom.
Die polisiewoordvoerder, kaptein Aefje Botma het aan Pretoria FM gesê dat ‘n polisiebeampte deur die hospitaal in kennis gestel is dat nog twee kinders dood is nadat ‘n vragmotor gister deur ‘n heining van die skool gebars het.
Vier kinders is op die toneel dood verklaar, ‘n vyfde een is op pad hospitaal toe oorlede en vier is beseer. Vanoggend se sterftes bring die totale dodetal tot op sewe. Die LUR vir die departement van maatskaplike ontwikkeling en vervoerbestuur, Sello Lehari het die sterftes bevestig.
Botma het ook intussen bevestig dat die polisie ‘n saak van strafbare manslag ondersoek. Die vragmotorbestuurder is nie in hegtenis geneem nie. Volgens haar het die vragmotor se band glo gebars, waarna die bestuurder beheer oor die voertuig verloor het.