30 Augustus 2022
Die Namibiese Polisie sê vyf mense is dood nadat ‘n vliegtuig by die Impalila-eiland in Namibië se Zambesi-streek – voorheen die Caprivi – neergestort het.
Vier toeriste en die vlieënier het in die ongeluk omgekom.
Volgens hoofinspekteur Elifas Kuwinga het die ongeluk vanmiddag omstreeks 12:00 plaasgevind.
Daar word beweer dat die vliegtuig vanaf die vliegveld by die Impalila-eiland opgestyg het, waarna dit kort daarna in die water van die Zambezi-rivier by die Muwana-nedersetting neergestort het. Kuwinga sê niemand het die ongeluk oorleef nie.
Volgens onbevestigde berigte behoort die vliegtuig aan Scenic Air, ‘n plaaslike vlugmaatskappy wat op die toerisme-mark fokus.
Die maatskappy wou nog nie kommentaar oor die ongeluk lewer nie. Volgens Kuwinga word die oorsaak van die ongeluk nog ondersoek.