27 Februarie 2023
Die Amerikaanse ambassade in Suid-Afrika het sy inwoners in Suid-Afrika gewaarsku om drie dae se voedselvoorrade aan te hou.
Dit sluit nie-bederfbare voedsel, drie liter drinkwater en medisyne in. Die VSA verwag ook dat beurtkrag lank na 2023 sal voortduur.
Die VSA se ambassade het dié waarskuwing uitgereik kort nadat president Cyril Ramaphosa ‘n ramptoestand oor die kragkrisis afgekondig het.
Die ambassade verduidelik in die verklaring dat beurtkrag mense tot ses uur per dag kan raak, en dat dit ook watertoevoer en selfoonnetwerke negatief beïnvloed. Volgens die verklaring neem misdaad ook toe wanneer beurtkrag geld.
Volgens die verklaring was daar ‘n toename in betogings, en selfs gevalle van burgerlike onrus weens die kragkrisis.