President Cyril Ramaphosa sê sy Amerikaanse eweknie, Donald Trump, het ingestem dat die VSA steeds ‘n sleutelrol in die G20 moet speel. Dit sluit die bywoning van die G20-leiersberaad later vanjaar in Johannesburg in. Ramaphosa het in sy weeklikse nuusbrief geskryf dat die hoofdoel van sy span se besoek verlede week aan die VSA was om sy strategiese ekonomiese vennootskap met die VSA – wat die land se tweede grootste handelsvennoot is – te laat herleef. Volgens Ramaphosa was die bespreking van die Afrikaner vlugtelingkwessie ‘n bysaak. Hy sê die Presidensie is tevrede met die vergadering en sê dat dit ‘n grondslag vorm vir groter betrokkenheid en samewerking. Ramaphosa sê hy het ook ‘n uitnodiging aan Trump gerig om ‘n regerings- en sake-afvaardiging na Suid-Afrika te stuur om geleenthede vir belegging en handel te ondersoek. |